Resensie: Spannende misdaad-dokkie ‘slaan kyker katswink’

Jens Soering en Elizabeth Haysom. (Foto: Netflix)

TILL MURDER DO US PART: SOERING VS HAYSOM
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐ (8/10)  
Met Jens Soering en John Grisham
Regisseurs: André Hörman en Lena Leonhardt
(Netflix)

Dis nie aldag dat die bekende misdaadskrywer, John Grisham, hom vir ʼn onderhoud vir ʼn televisie-dokumentêr beskikbaarstel nie, maar vir die veelbesproke dokumentêr, Till Murder Do Us Part: Soering vs Haysom, het hy sy mond behoorlik en kundig uitgespoel.

Hierdie opspraakwekkende moordsaak in 1985 het vir jare lank gesloer, voordat albei beskuldigdes skuldig bevind en tronk toe gestuur is. Moenie bekommerd wees nie, ek verklap niks in die spoiler alert-afdeling nie. Dié inligting is van die begin af bekend.

Wat nie bekend is nie, is wat skynbaar werklik gebeur het. Jens, toe nog heeltemal onskuldig, het verlief geraak op die sterk, manipulerende en seksueel-gedrewe Elizabeth Haysom. In 1985 het albei erken dat hulle Elizabeth se ouers grusaam vermoor het, en toe uit die land gevlug het voor hulle gearresteer is. Net ʼn waarskuwing: albei ouers se bebloede lyke op die moordtoneel word eksplisiet gewys. Oppas dus.

In die hof het daar egter ander weergawes uitgekom van wat glo gebeur het en dit is wat hierdie dokkie so boeiend en sensasioneel maak. Dit gaan veral oor Elizabeth se byna diaboliese manipulering van die onskuldige 18-jarige Duitser, hoe sy hom verlei het, en wat vermoedelik daardie verskriklike aand gebeur het. Maar nog erger: Jens praat self met die kyker oor wat hy beweer gebeur het nadat hy onlangs vrygelaat is.

Weet net: jy sal later self nie weet wat aangaan nie, veral in die uiters spannende hoftonele. As jy van ware misdaadreekse hou, is Till Murder Do Us Part: Soering vs Haysom verbluffend goed. Jy sal ná elke episode redekawel en die nuwe feite opnuut uitpluis. Dit is nou op Netflix en mag jou katswink slaan. Jy kan nie ophou kyk nie. Plaas dit bo-aan jou lysie.

(8/10).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.