Roché Killian spring van ‘Plaasjapie’ na sepiester

Roché speel Jolene Martins se ou liefde in ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

Hoewel hy nie destyds met Plaasjapie se R1 miljoen-prysgeld weggestap nie, voel dié program se Roché Killian dat hy tog ʼn wenner in eie reg was.

Die persoonlike afrigter en model is deesdae terug op die kassie en vertolk tans die rol van Theo Krause, ʼn gentleman met ʼn sagte hart in die gewilde kykNET & kie telenovelle Arendsvlei.

Roché was vroeër vanjaar ʼn gunsteling onder Plaasjapie-kykers, maar die mat is behoorlik onder hom uitgeruk toe hy in ʼn interessante wending vroeg sy tassies in dié werklikheidsreeks moes pak.

Hoewel sy trekpas talle kykers ontstel het, was daar geen kwade gevoelens tussen hom en van sy ander spanlede nie. Hulle kuier inteendeel steeds almal saam op ʼn Whatsapp-groepie.

Sy doel met Plaasjapie was egter nooit om werk as akteur te kry nie, maar eerder meer belangstelling in sy suksesvolle aanlyn gesondheidsprogram te kweek.

“En natuurlik om dalk met die R1 miljoen weg te stap,” terg hy.

Roché Killian en Clayton Evertson op die stel van ‘Arendsvlei’. (Foto: Verskaf)

Die Kapenaar het aan Maroela Media vertel dat toneelspel wel sedert sy skooldae in sy visier was, maar hy het destyds nie die geld gehad het om drama te studeer nie. “Ek wou nog altyd toneelspel doen, ek het dus as model begin werk met die hoop dat daar só deure vir my sou oopgaan.”

Charlene Wolmarans, eienaar van I Artist Management (IAM), ʼn akteursagentskap, het Roché ná sy tyd op Plaasjapie gekontak toe sy ʼn video van hom op sosiale media raakgesien het. “Sy vra toe dat ek haar kontak as ek ooit in toneelspel sou belangstel, maar ek het sommer daar en dan ja gesê en gevra dat ons mekaar ontmoet.”

ʼn Paar oudisies later het hy die rol in Arendsvlei losgeslaan en volgens Roché het hy en sy karakter, Theo, heelwat gemeen.

Nes Roché is Theo ongetroud en het hy al die wêreld vol gereis. Theo se sagte temperament stem ook met sy eie ooreen.

Roché en sy mede-akteur, Melissa Pretorius. (Foto: Verskaf)

“Hy is ’n skoolhoof wat ’n wildsplaas by sy ouers geërf het. Hy het na universiteit ook vir jare oorsee gereis en het teruggekom om wortel te skiet. Theo het ook steeds ʼn sagte plek vir Beatrice, wat deur die aktrise Jolene Martin vertolk word, omdat dié twee destyds op universiteit gevoelens vir mekaar gehad het,” vertel hy.

Senuwees en twyfel het egter amper dié nuwe akteur se eerste dag op stel gekelder, maar sy mede-akteurs het vinnig ingespring om hom te help. “Die eerste dag op stel was baie stresvol, maar Clayton Evertson, Melissa Pretorius én Jolene was ongelooflik ondersteunend.”

Roché vertel dat hy in die tweede toneel van sy eerste dag op stel gesukkel het om deur ʼn moeilike sin te kom. “Paniek skop toe dadelik by my in en met die stres het die gedagtes in my kop net geskree, ‘Jy is nie goed genoeg nie, Roché. Loop sommer nou en gaan net huis toe, jy hoort nie hier nie’.”

Jolene vat toe sy hande en vra of sy vir hom kan bid.

“Dis asof die Here haar gestuur het om my deur hierdie eerste rol te help. Sy is absoluut ʼn ongelooflike vrou.”

Hy sê die akteursgroep se kuiers agter die kameras is van sy gunstelingherinneringe. “Dit is so lekker om net saam met almal te kan kuier. Almal het lekker gesels, gelag en stories uitgeruil van vorige rolle en vertel wie is hulle gunsteling‑Hollywood-akteurs.”

Die gogga het hom ná Arendsvlei behoorlik gebyt en die voormalige plaasjapie sê hy droom nou van ʼn hoofrol in ʼn vollengte fliek. “Ek sal graag wil hê dat dit iets is wat mense sal inspireer en motiveer om ook hul drome te volg. Daar is soveel uitstekende sepies en reekse nou in Suid-Afrika, ek sal regtig net gelukkig wees om deel daarvan te wees en voor die kamera te wees.”

Liefde het ook ʼn week nadat hy die trekpas op Plaasjapie gekry het aan sy deur kom klop in die vorm van ʼn pragtige blonde, Britse kunstenaar genaamd Sophie Amelia Carr (24).

Sophie kom van Leicester in die Verenigde Koninkryk en dié tweetjies het mekaar in die gimnasium ontmoet, vertel Roché.

“Sy geniet Arendsvlei baie al moet sy dit met die onderskrifte volg,” voeg hy skertsend by.

Verder leef hy sy passie vir fisieke en geestelike gesondheid deur sy onderneming RK400 uit en skryf hard aan sy eerste boek. “Ek geniet dit ongelooflik baie om ander mense op hul gesondheidsreis te help om hul selfbeeld weer op te bou.”

Hy het voorheen aan Maroela Media erken dat alles in sy lewe nie altyd seepglad verloop het nie en hy “nie vreeslik doelgerig” in sy 20’s was nie.

“Toe ek egter besluit het om alles nie net oor myself te maak nie en eerder my uitdagings te gebruik om ander te help, het die Here baie deure vir my oopgemaak. Ek sien uit om te sien wat die toekoms inhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.