Skokverhaal in kykNET-dokkie onthul

Dié skokverhaal word in die kykNET- ondersoekende nuusdokumentêr Onthul: My pa het my nie verkrag nie, vertel. (Foto: skermgreep)

In 2012 is ʼn pa lewenslange tronkstraf vir die beweerde verkragting van sy dogter opgelê en vir die afgelope agt jaar veg hy om sy onskuld te bewys.

Sy dogter het intussen verklaar dat hy dit nie gedoen het nie.

Dié skokverhaal word in die kykNET- ondersoekende nuusdokumentêr Onthul: My pa het my nie verkrag nie, vertel. Dit is ook deur die vervaardigers van die bekende Showmax-trefferreeks Devilsdorp gemaak.

Die uurlange dokumentêr ondersoek die gebeure wat gelei het tot Abrie Raaths se skuldigbevinding op vier aanklagte van verkragting en twee van seksuele aanranding op sy dogter, Megan Raaths. Megan was maar net nege jaar oud tydens die beweerde gebeure in 2009.

Abrie is vier keer lewenslank tronkstraf opgelê en sy dogter veg nou dat hy vrygelaat word.

In haar ontstellende oorvertelling van gebeure, vertel Megan dat sy destyds as klein dogtertjie deur ʼn maatskaplike werker voorgesê is om in die hof oor die beweerde verkragting te getuig.

Verskeie ander pa’s kry ook ʼn spreekbeurt in die dokumentêr en vertel hoe hulle gesinne ook uitmekaar geskeur is nadat ongegronde klagtes van seksuele misbruik teen hulle gelê is deur hul jong kinders wat deur dieselfde maatskaplike werker bygestaan is.

Die Sondagkoerant Rapport het aanvanklik oor die skandaal berig.

Inge Kühne, redakteur van Rapport, en Antoinette Slabbert, ’n senior joernalis, verduidelik in die dokumentêr waarom hulle lont geruik het nadat Raaths aanvanklik gevonnis is. Die private ondersoeker, Leon Nel, verklaar ook waarom hy besluit het om die Raaths-familie te help om hul pa se onskuld te bewys.

Die saak is op pad na die hoogste hof in die land.

“Net soos wat lewens vernietig word deur seksmisbruik wat sonder ingryping voortduur, word gesinne uitmekaargeskeur wanneer beskuldigings van seksuele misdrywe gemaak word sonder genoegsame bewyse, of sonder dat die regte prosesse gevolg word,” sê Waldimar Pelser, M-Net se direkteur van kykNET-kanale.

“Nadat Rapport oor die Raaths-voorval berig het, het ons een van die land se beste dokumentêre spanne gevra om die saak te ondersoek sodat ons die stemme kan hoor van diegene wat ernstige beskuldigings maak, en diegene wat volhou hulle is onskuldig. Dis noodsaaklik om uit te vind wat het regtig gebeur.”

  • Skakel Sondag 10 Julie om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir die opspraakwekkende dokumentêr Onthul: My pa het my nie verkrag nie. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.