Skoot hoog deur vir ‘Op my eish! 2’ se Franna

Liefde het geseëvier toe Francois in ‘Op my eish! 2’ sy hart vir Nykie gegee het. (Foto: kykNET)

Vir die afgelope 13 weke het kykers die akteur Francois Jacobs se soektog na liefde op die kassie gevolg in Op my eish! 2 en dié program het Donderdagaand met  ʼn goeie skeut drama en romanse tot ʼn einde gekom.

Liefde het wel geseëvier toe Francois aan die einde van die episode sy hart vir Nykie, ʼn 25-jarige entrepreneur van Pretoria, gegee het. Claudia en Leyla het albei toe reeds self gekies om hulle tasse te pak.

“Ek is mal oor jou. Ek is verlief op jou. Jy is een ongelooflike mens en ʼn beeldskone vrou en ek is bly jy loop vanaand hier langs my,” het Francois vir Nykie gesê.

Dié twee is steeds in ʼn verhouding en moes hul verhouding die afgelope paar maande stil hou totdat die laaste episode van Op my eish! 2 uitgesaai is.

Maar hoewel Francois en Nykie soos twee duifies vir mekaar gekoer het voordat hulle by ʼn handjievol familie en vriende aangesluit het, kan ʼn mens nie die laaste aand se gebeure wat in aanloop tot hierdie romantiese oomblik by die Pheasant Hill Boutique Hotel afgespeel het, ignoreer nie.

Leyla, Claudia, Nykie en Francois in ‘Op my eish! 2’. (Foto: kykNET)

Kykers wat die program gevolg het sal weet dat deelnemers nie toegelaat is om alleen vir Francois te sien, met hom te praat, of telefonies met hom te kommunikeer nie, tensy dit op kamera was.

Nou ja, in die woorde van ʼn verliefde Francois het die hart ʼn wil van sy eie en toe Nykie die laaste aand ná die braai verby sy kamer loop op pad na haar kamer, was Francois se selfbeheersing daarmee heen.

“Ek het geweet dit is nie toelaatbaar nie en dit kan ons grootliks in die moeilikheid kry,” het Francois erken.

Nykie was emosioneel toe sy verduidelik dat sy op daardie oomblik aan niks anders as tyd saam met Francois gedink het nie. “Dis erg om iets te wil hê en jy weet jy wil dit hê, maar jy mag nie.”

Nodeloos om te sê was Claudia en Leyla uit die veld geslaan toe hulle in die vroeë oggendure agterkom dat Nykie nie in haar bed is nie. Albei was teleurgesteld toe die waarheid uitkom en hulle het gevoel dat hulle te na gekom is.

Só sê Leyla oor haar Op my eish-avontuur

‘Op my eish! 2’ se Leyla van Greuning. (Foto: Verskaf)

Nou, maande later, vertel Leyla in ʼn onderhoud met Maroela Media dat sy intussen aangegaan het en dat daar eintlik ʼn hele paar goeie goed uit die Op my eish! 2-avontuur gekom het.

“Ek kyk elke week na die program, as beurtkrag dit natuurlik toelaat,” skerts sy.

“Wat ek sien is hoe ek as vrou sterker geword en gegroei het. Ek het ook baie geleer van myself, wat ek in die lewe en in ʼn pasmaat soek.”

Die program het nie eintlik haar sienswyse van liefde en verhoudings verander nie, en soos wat sy van die begin af gesê het, is en bly respek een van die belangrikste aspekte in ʼn verhouding.

Dit is waarom sy so teleurgesteld was toe Nykie en Francois nie by die reëls gehou het nie.

“Ek het van die begin af probeer om my tyd daar te geniet en ek het myself die heeltyd in ander mense se skoene probeer plaas deur myself af te vra hoe ek sou voel as ek daardie persoon was. Dit is waar respek inkom, nie net vir jou pasmaat nie, maar ook vir ander mense in die lewe.

“Wat ek wel agtergekom het, is dat jy dalk dink iets wat die ander persoon sê of doen is ʼn klein dingetjie, maar aan die einde van die dag tel dit alles bymekaar en word dit ʼn groot ding,” sê sy.

Leyla verduidelik dat sy teleurgesteld was in Francois juis omdat hy geweet het hoe belangrik respek in ʼn verhouding vir haar is. Hy het dit geweet, want sy het dit telkemale tydens hulle alleen-afsprake vir hom gesê.

“Ek was ook teleurgesteld in Nykie omdat ons baie close was. Ek en sy was roomies van dag een af, ek het haar in my vertroue geneem, baie meer met haar as van die ander deelnemers gedeel en daarom het ek verwag dat sy my ook sal respekteer,” vertel sy.

Maar, sê Leyla, daar is meer kante aan ʼn storie en hierdie is haar ervaring.

‘Op my eish! 2’ se Jeannedré de Waal is een van die deelnemers met wie Leyla van Greuning vriendinne geword het. (Foto: Verskaf)

“Toe ons net klaar geskiet het, was dit vir my moeilik. Dit het my ʼn hele ruk geneem om gereed te voel om met Nykie te praat,” sê Leyla. “Maar ek en sy het wel al gesels, ek het haar kant van die storie gehoor en hoewel my vertroue in haar nie weer dieselfde sal wees nie, het ek haar vergewe en is daar nou vrede tussen ons.”

Leyla meen dit is interessant om te sien watter oomblikke gekies is om uitgesaai te word. “Ons het eintlik baie meer tyd saam deurgebring en oor diep goed gesels. Maar wat vir my wonderlik is om te sien is dat die Leyla wat mense op televisie leer ken het, ooreenstem met die regte Leyla.”

Dié 23-jarige donkerkop van Johannesburg het as ʼn buiteperd by die groep aangesluit nadat die vervaardigers haar genader en gevra het of sy dit sal oorweeg om in te skryf.

“Dit het my eintlik ʼn ruk gevat om ja te sê,” verklap sy. “Ek dink deur alles, maar ek het in die begin van die jaar besluit dat ek myself hierdie jaar gaan uitdaag om uit my gemaksone te kom, toe hierdie geleentheid opdaag, toe gryp ek dit aan.

“Die kameras was ʼn vreemde ding om aan gewoond te raak, maar soos wat die tyd verbygaan dink ʼn mens nie eers meer daaraan dat jy opgeneem word nie.”

Soos met elke ander besluit wat sy in die lewe neem het Leyla ook met haar ma gesels voordat sy ingestem het om aan die maatsoekprogram deel te neem. Haar ma is haar steunpilaar met wie sy alles deel, vertel Leyla.

‘Op my eish! 2’ se Leyla van Greuning en haar ma. (Foto: Verskaf)

“My ma geniet die program vreeslik baie. Sy sê net die heeltyd hoe trots sy op my is.”

Leyla werk as digitale bemarker en doen vryskutmodelwerk. Dit help haar om ekstra geld te verdien sodat sy vir haar studie in bemarkingsbestuur kan betaal.

“My ma is ʼn enkelouer en sy het altyd gesê as ons ʼn motor wil hê of wil studeer moet ons self daarvoor betaal. Ek is baie opgewonde, want as alles volgens plan verloop maak ek aan die einde van die jaar daarmee klaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Erik ·

Nie die eerste ‘Op my Eish’ gevolg nie, maar wel hierdie een. Van die begin af vermoed Francois en Nykie gaan saam opeindig – daar was net iets daar wat nie heeltemal daar was met die ander nie. Wens julle alle voorspoed toe – nie nodig om skuldig oor enige iets te voel nie. Inteendeel, ek dink julle almal het julle eintlik baie goed ‘gedra’.

jacques ·

Duidelik net n program, hierdie Franna ou boks heeltemal bo sy liga om so model te kry. Sekerlik was daar mooier ouens om die program deel te neem?

Nommer 7 ·

Francois en Nykie wat nie by die reels gehou het nie, moes eintlik gediskwalifiseer word.

Andries ·

As ek die vervaardiger van die reeks was sou ek so effe ongelukkig gewees het met die twee. Almal het gedink Franna & Nykie sou die ding doen, maar nie so nie. Die ander twee wonderlike dames is ‘n onreg aangedoen en hulle sou dit aanvaar het. Hulle sou goeie “sports” gewees het… sou Franna by die reëls gehou het. Baie terleurgesteld in die einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.