Skuif nader vir twee dokkies oor ware SA verhale

Miché Solomon (gebore Zephany Nurse) (Foto: Skermgreep uit eNCA-video in 2019)

Kykers kan uitsien na twee dokumentêre oor ware plaaslike verhale wat hierdie Sondag op televisie gaan wys.

Girl, Taken vertel die hartverskeurende ware verhaal van Zephany Nurse. Die dokumentêr delf in die gebeure toe baba Zephany in 1997 uit die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad ontvoer is, toe sy maar net drie dae oud was. Sy is 17 jaar later gevind en haar verhaal het selfs internasionale aandag geniet.

Francois Verster en Simon Wood is verantwoordelik vir die regie en beskryf dit as “aangrypend”, “kompleks” en “vol emosie”. Girl, Taken het reeds die prys vir die beste Suid-Afrikaanse dokumentêr by die Durbanse Internasionale Rolprentfees gewen. Beoordelaars het dit geloof vir die talle kinkels en draaie waarmee die kykers in die ware verhaal op reis geneem word.

In Girl, Taken praat Zephany, wat as Miché Solomon grootgemaak is, oor haar opvoeding; die verwoesting wat gebeur het ná haar ontvoering aan die lig gekom het; die dramatiese hofsaak met die vrou wat sy as haar ma geken het; en hoekom sy gekies het om by die Solomon-gesin te bly, selfs nadat sy verneem het dat sy ontvoer en ʼn ander identiteit gegee is.

In dié dokkie sien kykers hoe Zephany se biologiese ouers, Celeste en Morné Nurse, hul harte oopmaak oor die pyn daarvan om hul baba te verloor, die vreugde om haar weer te vind en die pyn om haar vir ʼn tweede keer te verloor.

Terwyl die wêreld ʼn seldsame goedvoelverhaal gevier het oor ʼn gesteelde kind wat teruggevind is, het die mense agter die opskrifte in werklikheid gesukkel om tot verhaal te kom midde in die storm wat in hul lewens gewoed het.

Hierdie dokumentêr volg twee gebroke gesinne se moeilike na pad na vergifnis en heelwording. Dis hul storie, vertel in hul eie woorde.

  • Girl, Taken word op Sondag 19 Februarie om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.
  • Kyk die voorskou van Girl, Taken hier:

Louis Liebenberg: Skurk of Samaritaan?

Die omstrede sakeman Louis Liebenberg dryf handel met diamante en is op vrye voet, terwyl sy teenstanders glo hy agter tralies hoort. Volksheld, kultusleier, smous of entrepreneur? Wie is hy regtig?

Hierdie kwessie word Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) onder die loep geneem in die ondersoekende nuusdokumentêr, Onthul: Skurk of Samaritaan ?

Oral basuin koerantopskrifte die boodskap uit: Liebenberg skuld mense geld en hy moet aan die pen ry daarvoor.

(Skermgreep uit “Onthou: Skurk of Samaritaan?”)

Liebenberg is die afgelope paar maande pal in die nuus oor sy unieke diamanthandelkonsep, Forever Diamonds and Gold (FDG), wat die laaste twee jaar ongeveer 40 000 beleggers gelok het. Hy is tans in ’n regsgeding met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gewikkel omdat hy daarvan beskuldig word dat hy ’n Ponzi-skema bedryf en ongeslypte diamante by onwettige diamantdelwers koop. Sommige mense meen hy is ’n skurk wat tronkstraf verdien; ander beskou hom as ’n goeie sakeman wat mense help om finansiële vryheid te kry, ’n soort volksheld en Robin Hood-figuur.

Nina Swart is die regisseur van dié nuwe dokkie en dit vorm deel van ’n reeks ondersoekende nuusdokumentêre onder die vaandel Onthul, wat deur IdeaCandy, vervaardigers van die Showmax-treffer Devilsdorp, gemaak word.

In Onthul: Skurk of Samaritaan? word kwessies rondom Liebenberg se sakepraktyke reguit bespreek. Die moeilike vrae word aan Liebenberg self gestel en hy skroom nie om te antwoord nie.

Hy word van alle kante in dié dokkie belig. Verskeie mense, insluitend mense wat in die diamantskema ingekoop het, Dirk Lotriet, redakteur van Die Waarheid Media, en die voormalige Springbok Derick Hougaard besing sy lof. “Hoogs intelligent”, “welsprekend” en “diep denker” is van die woorde wat hulle gebruik om hom te beskryf.

Die dokumentêr gee ook ’n spreekbeurt aan diegene wat hom ’n skelm noem en hulself as slagoffers van sy skema beskou. “Mense, julle gaan jul geld verloor, hy gaan julle nie uitbetaal nie,” waarsku een van hulle. Uittreksels van sy Facebook Live-video’s wys hoe hy vir sy meer as 80 000 volgers preek om te belê op maniere wat sommige beskryf as kenmerkend van ’n narsis.

Die kwessie van Liebenberg wat volgens berigte onwettig in Namakwaland vir diamante delf, sowel as sy verhouding met sekere ANC-lede word ondersoek. Verskeie rolspelers lewer kommentaar, insluitend Cyril Warne, raadslid vir die Namakwa-distriksmunisipaliteit, Veronica van Dyk, DA-parlementslid vir Kamiesberg, en die voormalige ANC-lid Carl Niehaus.

Ander kenners wat insae lewer sluit in Pieter Steyn, senior joernalis vir Rapport, dr. Kosie de Villiers, sakekonsultant aan die Universiteit Stellenbosch, prof. JP Smit, van die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch, en die kliniese sielkundige Louis Awerbuck.

  • Onthul: Skurk of Samaritaan? word Sondag 19 Februarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.