‘The Bachelorette’ kom ook SA toe

M-Net het pas bekend gemaak dat hy nou ook ʼn plaaslike weergawe van die gewilde wêreldwye werklikheidsprogram The Bachelorette gaan uitsaai.

Dit volg nadat die tweede seisoen van The Bachelor SA onlangs tot ʼn einde gekom het. Daar word reeds agter die skerms aan Suid-Afrika se weergawe van The Bachelorette gewerk en die identiteit van die gelukkige vrou wat gaan probeer om ʼn lewensmaat te vind, word dié week nog bekend gemaak.

“Om ons eerste Bachelorette te kies was ʼn vreesaanjaende taak,” het Lani Lombard, hoof van bemarking by M-Net, gesê. “Hoewel dit nie ʼn vasgestelde reël is nie, is die gebruik gewoonlik om ʼn vrou te kies wat aan een van die vorige The Bachelor-seisoene deelgeneem het.”

Volgens Lombard was hulle in dié opsig gelukkig om te kan kies en keur. “In albei seisoene was daar talle pragtige vroue wat maklik hierdie gesogte rol kon vervul en ons weet hoe aanhangers vurig hul gunstelinge op sosiale media bemark het. Agter die skerms is ons ook genader deur ander potensiële vroue wat nie op die program verskyn het nie, maar graag die volgende Bachelorette wil wees.”

Terwyl daar gewag word dat Suid-Afrika se eie Bachelorette bekend gemaak word, kan enkellopende mans solank gereed maak om hul beste voetjie voor te sit indien hulle graag deel van die program wil word. Belangstellendes sal onmiddellik kan begin inskryf sodra haar identiteit bekend gemaak is.

Die eerste seisoen van The Bachelorette het reeds in 2003 in Amerika begin en oor die jare het verskeie lande reeds plaaslike weergawes van die program aangebied.

M-Net beplan om die eerste seisoen van The Bachelorette SA vroeg volgende jaar uit te saai en om so gou moontlik met verfilming te begin.

Suid-Afrikaanse kykers wat die Amerikaanse reeks volg, sal weet dat The Bachelorette oor een gelukkige vrou gaan wat probeer om ʼn lewensmaat te vind. Sy ontmoet 25 enkellopende mans wat gereed is om liefde te vind en gaan dan op talle romantiese afsprake met hulle terwyl sy geleidelik haar opsies verminder totdat sy haar perfekte maat vind in ʼn dramatiese eindepisode – wat gewoonlik met ʼn verlowing eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.