Vanes-Mari: ‘Jy lewe regtig net een keer’

Vanes-Mari du Toit. (Foto: Verskaf)

Stilsit is nie in die blondekop aanbieder en voormalige Protea-netbalspeler, Vanes-Mari du Toit, se woordeskat nie.

Om te woeker en werk, maak haar gelukkig, vertel Vanes-Mari aan Maroela Media. Ja, dit kan uitputtend raak, maar haar werk maak haar doelgerig.

“Ek herinner elke dag my broers daaraan dat ons nie verseker is van die dag van môre nie. Jy lewe regtig net een keer. Dis hoekom ons ook waaksaam moet wees oor die dinge waaroor ons daagliks bekommer,” sê Vanes-Mari.

Sy is tans op VIA te sien as aanbieder van Die Groot Afskud, ʼn leefstylprogram waarin ses oorgewig deelnemers poog om die meeste gewig vir ʼn groot kontantprys af te skud.

“Ons leen ons harte, siele en verstand uit aan goed wat ons nie kan beheer nie en wat ons vreugde steel. Ons moet eerder fokus op wat ons kan beheer. Ek het ʼn donker sin van humor, maar ook ʼn donker sin vir motivering: My motivering is gegrond in hoe min tyd ʼn mens op aarde het. Ek is nou 33 jaar oud. Waar is daardie tyd heen?”

Vanes-Mari het haarself onlangs weer in Pretoria gevestig nadat sy ná haar egskeiding vir ʼn ruk in Kaapstad gewoon het. Haar middelste broer, wat vanjaar in matriek is, woon tans by haar.

“Ek is nie spyt oor enige besluite wat ek in my lewe geneem het nie. Ek staan bankvas agter elke liewe keuse. In daardie oomblik was dit die beste vir my, so ek leef daarmee saam.

“Ek kan ʼn miljoen redes gaan soek om oor goed spyt te wees, maar dit is belangrik dat ʼn mens jou eie keuses aanvaar en ek staan een honderd persent agter my. Jy moet jou eie grootste aanhanger wees, want min ander mense gaan dit vir jou wees.”

Vanes-Mari op die stel van ‘Die groot afskud’. (Foto: Verskaf)

Vanes-Mari praat met die grootste respek van die deelnemers aan Die Groot Afskud. “Elkeen van die deelnemers het ʼn unieke storie oor en motivering vir hoekom hulle gewig wil verloor en hulle lewens wil verander. Ek dink kykers vind aanklank by die deelnemers.

“Olive het huweliksprobleme as gevolg van haar gewig, terwyl Gertjie sukkel om kinders te kry. Karlien wil vir haar seun oorsee gaan kuier en haar gewig hou haar tans terug. Elkeen van hierdie deelnemers het gekies om vir die program in te skryf en die keuse gemaak om ʼn beter toekoms vir hulself en hulle gesinne te hê.”

Die program volg ʼn holistiese benadering tot gewigsverlies. Dewald Louw, ʼn sielkundige, Olivia Losper, ʼn fiksheidsafrigter, en Minette Röth, ʼn geregistreerde dieetkundige, is deel van die span wat na die welstand van die deelnemers omsien.

“Gewigsverlies is ʼn kopskuif, maar as jy dink jy gaan gelukkiger wees as jy nét hierdie gewig verloor, maak jy ʼn groot fout. Jy moet éérs gelukkig wees, en jy moet eers geluk in jouself vind, om dit vir jouself te kan doen,” sê Vanes-Mari.

“Ek het self deur die proses geleer dat ons ʼn wanindruk oor gewigsverlies het, en dat dit presies die teenoorgestelde werk as wat ons dit nog altyd wou benader.”

Vanes-Mari het in 2012 tydens die Quad-netbalreeks in Nieu-Seeland en Australië netbalaanhangers se harte vermurwe deur vir die kamera te wuif toe sy ‘n bal gaan haal het wat van die baan af gehop het.

In 2018 het sy haarself nog meer as ‘n Suid-Afrikaanse liefling gevestig deur saam met die danser Johannes Radebe aan die M-Net-program, Dancing with the Stars, deel te neem. Hulle het saam na die halfeindronde deurgedring.

Vanes-Mari leef voluit. (Foto: Verskaf)

Sy het ook die ganse land laat skater met ‘n skertsende verwysing na maagwerkings. “Toe ek destyds die woord ‘spuitpoep’ op TV gesê het, het die land saam met my gelag. Nou nog wil mense die skandaal daarin sien, maar ek sien net die grap.”

Vanes-Mari het as Protea-speler haar land regoor die wêreld verteenwoordig, en hou steeds een voet in die netbalwêreld.

Sy gaan in Julie betrokke wees as kommentator en aanbieder by die Netbalwêreldbeker wat in Kaapstad plaasvind. Sy bied ook ʼn hele rits netbalklinieke regoor die land aan.

“Ek dra baie hoede, maar dit is vir my baie lekker om by sport en netbal betrokke te bly. Dit voel asof alles in ʼn sirkel bymekaarkom.”

Sy is ook as veldaanbieder op kykNET se leefstylprogram, Kwêla, te sien.

“My passie is om stories uit te ruil en met mense te praat. Net soos wat ek kennis oordra van wat in my kort lewe gebeur het, so kry ek weer iets by ander mense. Ons almal sit ons koppe neer en doen wat ons kan, maar die oomblikke wat ons by mekaar kan inloer en hoor hoe dit gaan, is vir my lekker.”

Verder is Vanes-Mari en Hamilton Wessels in September op pad na die Rugbywêreldbeker in Frankryk, waar hulle gaan werk aan ʼn kykNET-program getiteld, In Frans, ja.

Vanes-Mari en haar oupa. (Foto: Instagram/Vanes-Mari du Toit)

“Ek is bang mense gaan dalk begin moeg raak vir my gesig. Ek gaan sommer my sosialemediaprofiele uitvee, want dalk voel mense hulle sien genoeg van my op TV,” skerts Vanes-Mari laggend.

Wat haar egter paai, is die feit dat haar geliefde oupa, wat vanjaar 90 jaar oud word, haar elke dag op televisie kan sien.

“Hy sit in Port Edward saam met sy oppasser. Ek stuur elke dag vir haar ʼn lysie van die kanale en tye waar hy my kan sien.”

Vir ʼn ander man in haar lewe is daar nie nou tyd nie, lag Vanes-Mari. “My oupa is my sielsgenoot. Ons praat elke dag oor die foon.”

Die Groot Afskud is elke Saterdag 19:00 op VIA, DStv-kanaal 147, te sien. Dit is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.