‘Vat jou goed en trek’: Henk se wenke

Na die opknappings van hierdie vertrek in die tweede episode van ‘Vat jou goed en trek’. (Foto: kykNET)

Deur Ilza Roggeband

Henk Conrey, ʼn dekorkenner en die aanbieder van die kykNET-reeks Vat jou goed en trek, het in die tweede episode van die nuwe seisoen die eienaar in trane gehad met die nuwe voorkoms van haar huis.

Conrey het ʼn paar vrae oor sy projek in dié episode beantwoord.

Wat was die eienaar, Bou, se opdrag aan jou?

Sy het ingeskryf omdat sy haar woning wil verkoop. Dit is ʼn losstaande eiendom wat Bou self in drie eenhede omskep het wat sy dan uitverhuur vir bykomende inkomste. Die eiendom is in Wierdapark in Pretoria en Bou wil dit verkoop omdat sy na die kus toe wil trek.

Voor die opknappings van hierdie vertrek in die tweede episode van ‘Vat jou goed en trek’. (Foto: kykNET)

Is dit ʼn groter uitdaging om ʼn eiendom wat drie eenhede het op te knap?

Enige eiendom met meer as een eenheid is ʼn aanwins, aangesien iets soos ʼn tuinwoonstel verhuur kan word. Wat hierdie eiendom uniek maak, is dat daar drie eenhede is. Dus kan ʼn familie in die hoofhuis woon en die ander twee eenhede kan verhuur word.

Nog ʼn opsie is vir die kopers om in die hoofhuis te woon, ouma en oupa in een van die eenhede en die ander eenheid kan verhuur word. Die eiendom kan ook as ʼn belegging gekoop word en die huurinkomste sal heel moontlik die verband dek. Hierdie is alles faktore wat dit baie opwindend maak vir REALty om dit te verkoop.

Wat is die nuwe neigings wat julle in hierdie projek gebruik het?

Verf maak altyd ʼn groot verskil. Ons het ʼn ander kleurpalet gekies, aangesien ons die spasie meer karakter wou gee. Ons het by neutrale kleure teen die mure gebly en blou as aksentkleur gebruik om die spasie meer lewe te gee. Die blou is egter ingebring deur die meubels wat maklik verander kan word indien die koper nie van blou hou nie. Ons het ook blindings gebruik om meer natuurlike lig van buite in te bring en om die spasie meer modern te laat lyk.

Hoe kan kykers enige van hierdie wenke in hulle eie huise toepas?

Bly neutraal. Bly weg van helder kleure aangesien dit nie in almal se smaak is nie. Bring aksentkleure in deur dekor soos met byvoorbeeld kussings en kuns en hou groot meubelstukke ook neutraal. Dit is beslis goedkoper om die aksentkleur te verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.