Vermaaknuweling se voete in geloof, harde werk geplant

Mienke Ehlers. (Foto: verskaf)

Sy het Suid-Afrikaners bekoor met haar ondeunde en bekkige vertolking van Dalena van Vuuren in die kykNET-reeks, Dinge van ’n kind, maar in werklikheid is Mienke Ehlers bloot ’n hardwerkende jong vrou wat eenvoudig geweier het om haar kinderdrome prys te gee.

Ná afloop van haar studie het Ehlers vyf jaar lank aan die toe deure in die vermaakbedryf bly klop. Sy het toegewyd elke werk gedoen agter die skerms wat oor haar pad gekom het, met haar oë op ’n toekoms as aktrise en aanbieder gerig.

Dit was ’n behoorlike les in geduld, maar dit het haar ook geleer om genade met haarself te hê.

“Ek het geleer om nooit neer te kyk op enige werk op stel nie. Dit het my laat besef dat die mees vervangbare persoon in die produksie die akteur is.”

Sy het gedurende dié tydperk van haar lewe elke oggend vyfuur opgestaan, 12 uur per dag gewerk en dissipline aan die dag begin lê.

Toe die lankverwagte droomrol van Dalena, in die TV-verwerking van Marita van der Vyver se roman, uiteindelik opdaag, het dit duidelik geword waarom sy ’n hele paar jaar vir die rol moes wag.

“Ek moes eers besef dat mens ook emosioneel reg moet wees vir so ’n rol.

“Jy moet konstant dankbaar bly vir die geleenthede. Dié rol het op die regte tyd in my lewe gekom; ek het besef dat ek dit sonder kommer moet geniet.”

Twee dinge het Ehlers gedra op die pad na haar drome: die ondersteuningsnetwerk van haar gesin en haar onwrikbare geloof in die Here. Dit het die grondslag van haar toegewydheid en deursettingsvermoë gevorm.

Hoewel die droom van toneelspel nooit verdof het nie, het die rede waarom sy ’n aktrise wou wees deur die jare verander.

Aan die begin was dit bloot om haar lewenspaadjie te volg. Nadat sy haar honneursgraad in drama by AFDA voltooi het, was die logiese volgende stap in haar lewe om haar volkome in die vermaakbedryf in te ploeg.

Sy het egter intussen besef dat die belangrikheid van storievertel en die behoefte om ’n verskil te maak met haar werk van veel groter waarde as die blote logiese volgende stap in haar lewenspad is.

“My hoekom het verander. Hoekom moet ek hierdie storie vertel? Toe my hoekom verander, het ek begin werk kry.”

Dié gewaarwording is iets wat sy graag met ander mense wil deel. Sy wil haar getuienis oor geduld en die ontdekking van haar lewensdoel gebruik om ander te inspireer om dieper in hul eie doel te delf.

Dinge van ’n kind is in die warm Limpopo-dorpie, Hoedspruit, verfilm; iets waarna Ehlers vandag met liefdevolle herinnering terugkyk.

“Dit was die grootste avontuur.”

Sy gesels graag oor die vriendskappe wat tydens die verfilming van die reeks gesmee is. Ehlers het selfs onlangs saam met een van haar mede-aktrises ingetrek.

(Foto: verskaf)

“Ons vier het gesê dat ons nie weet of ons weer sulke natuurlike, spontane vriendskappe gaan vorm nie.”

Oor haar karakter, Dalena, gesels sy met verwondering. Sy beskryf die tyd wat sy saam met die karakter deurgebring het as van die lekkerste tye in haar lewe.

Dit was ook vir 26-jarige Ehlers verfrissend om weer in hoërskoolskoene te klim en opnuut ’n pad van kinderlike naïwiteit te stap.

“Ek het ook ’n sterk persoonlikheid wat seker effens groter was as wat dit moes wees tydens my hoërskooljare. Ek het alles gesê soos wat dit was, ek was glad nie op my mond geval nie.

“Ek het eers later in my lewe teruggetrokke begin raak toe ek besef het mens moet onvoorwaardelike verantwoordelikheid aanvaar vir dít wat jy sê.”

Tydens Ehlers se karakterontleding van Dalena het sy talle raakpunte in die karakter se geaardheid geïdentifiseer wat ’n paar van haar eie eienskappe se spieëlbeeld was.

Sy het deur dié verkenningsproses selfondersoek gedoen en aan van dié eienskappe geskaaf en geskuur. Een van die goed waarmee Ehlers haar kon identifiseer, is die wêreld wat soms te veel raak.

Dalena se stryd met depressie was iets waarmee sy haar kon vereenselwig omdat sy self met angstigheid sukkel.

“Ek het dikwels myself in die oë gekyk en ek kon terapeuties deur van my probleme werk.”

Ehlers sê haar fokus is tans op haar loopbaan en sy droom reeds  nou om die aanbiederskoene van die gewilde maatsoekprogram, Boer soek ’n vrou, aan te trek.

Ehlers, wat in die Paarl in die Wes-Kaap grootgeword het, woon deesdae in Kaapstad en sy meen dit is haar hegte verhouding met haar gesin wat die vuur in haar hart om eendag self ’n ma te word aangewakker het.

“Ek is so lief vir my ma, ek wil eendag ervaar hoe dit voel om aan die ander kant van daardie verhouding te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.