Video: Aksiebelaaide kykgenot in ‘Devil’s Peak’ wag op kykers

‘n Skermgreep uit ‘n episode van ‘Devil’s Peak’. (Foto verskaf deur M-Net)

“Ek het definitief empatie met Bennie se uitdagings wat hy met angs ervaar, want dit is iets wat ek ook al self moes hanteer en oorkom.”

So vertel Hilton Pelser oor die ooreenkoms tussen hom en sy karakter, Benny Griessel, in die televisiereeks, Devil’s Peak.

Dié einste Bennie was aanvanklik ʼn agtergrondspeler in van Deon Meyer se eerste boeke, maar in 2005 het hy met die verskyning van Infanta sy plek in die kollig ingeneem. Infanta het later in Engels met die titel, Devil’s Peak, verskyn.

Nog ʼn interessante brokkie inligting oor die vertaling van hierdie storie, is dat die karakter se naam as “Bennie” in die Afrikaanse en Nederlandse boeke geskryf word. In die Engelse, Duitse en Franse weergawes, sowel as die televisiereeks, is dit aangepas na “Benny”.

Bennie het oor die jare heen een van gewildste karakters in die Afrikaanse letterkunde geword. Dié legendariese speurinspekteur van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid in Kaapstad met al sy foute, feilbaarheid en sy ewige stryd teen die drankduiwel het diep onder lesers se vel ingekruip.

Bennie het ook ʼn paar sake wat swaar op sy gemoed weeg.

‘n Skermgreep uit ‘n episode van ‘Devil’s Peak’. (Foto verskaf deur M-Net)

“As gevolg van die ewigdurende konfrontasie met Kaapstad se ongebreidelde geweld en korrupsie, word Bennie na depressie en alkoholmisbruik gedryf. Sy toenemende angsaanvalle kry soms die oorhand en sy drankgewoontes dreig om sy huwelik en loopbaan te laat ontspoor,” brei Hilton uit.

Hy voeg by dat die hantering van geestesgesondheidsprobleme wat met angs verband hou, ʼn belangrike kwessie is om oor te praat.

“Daar is baie mense wat daarmee sukkel en wat in hierdie web van emosies vasgevang word, omdat hulle bang is om met ander mense daaroor te praat. Ek is bly dat ons met Devil’s Peak lig daarop kan werp.”

Dié langverwagte vyf-episode-misdaadriller is op Deon Meyer se topverkoper-roman gegrond, en kykers kan op Sondag 29 Oktober uiteindelik naderskuif wanneer die reeks op M-Net begin.

Ander akteurs wat ook hoofrolle in die reeks vertolk, is Sisanda Henna, Shamilla Miller, Tarryn Wyngaard, Albert Pretorius en Masasa Mbangeni. Die res van die rolverdeling sluit onder meer Gérard Rudolf, Dawid Minnaar en Solly Philander in.

Maroela Media het tydens Devil’s Peak se mediabekendstelling in Kaapstad – so ewe met ʼn wolkbedekte Duiwelspiek in die agtergrond – met ʼn paar van die akteurs gesels oor hulle karakters, hoe hulle vir aksietonele voorberei het en temas wat in die storie ondersoek word.

Maroela Media het tydens Devil’s Peak se mediabekendstelling in Kaapstad – so ewe met ʼn wolkbedekte Duiwelspiek in die agtergrond – met ʼn paar van die akteurs gesels oor hulle karakters gesels. (Foto: Maroela Media)

“Hierdie is my eerste kennismaking met Deon se werk. Hy is ʼn ongelooflike storieverteller en daarom is ek opgewonde om sy ander boeke ook te lees,” sê Hilton. Hy voeg by dat Matthew Orton, wat die draaiboekverwerking behartig het, hom uitstekend van sy taak gekwyt het om die karakters op die kassie te laat lewe kry.

Tarryn, wat in die rol van Christine van Rooyen te sien is, sê dit was vir haar ʼn moeilike storie met swaar temas wat emosioneel baie van haar as aktrise geverg het. Tog was dit vir haar lekker om in ʼn sterk, elegante vrou se skoene te staan.

“Christine is die soort karakter wat weet wie sy is, ongeag die vooropgestelde idees wat ʼn mens dalk oor haar karakter, motivering en dade kan hê. Niks sal haar laat swyg, of van haar plan laat afsien nie.”

Hoewel Solly ʼn kleiner rol in die reeks speel, was dit vir hom ʼn wonderlike ervaring om deel hiervan te wees. Hy vertel aan Maroela Media dat hy op stel beleef het hoe sy medeakteurs en die produksiespan met die grootste fokus en toewyding gewerk het om die beste produk vir kykers te skep.

“Ek is verskriklik trots daarop om vandag hier te staan en deel van die Devil’s Peak­-span te kon wees. Dit is na my mening ʼn groot oomblik vir Suid-Afrikaanse televisie. Jozua Malherbe se regie, ondersteuning van die ander akteurs en die algehele gevoel terwyl ons geskiet het, was regdeur ongelooflik positief.”

Die sentrale tema van die storie gaan oor die kwesbaarheid van kinders. “Kinders se lewens het ongetwyfeld ʼn invloed op die wêreld, veral kinders wat in gevaar is. Benny het ʼn dogter wat pas ʼn jaar of wat oud is, Thobela se seuntjie sterf, en Christine se dogter word ontvoer,” verduidelik Jozua.

Een van die onderliggende temas wat hy ook in die reeks ondersoek, is die voortdurende chaos waarin karakters hulleself bevind en watter invloed dit op elkeen se lewe het.

In reaksie op ʼn vraag oor hierdie tema, sê Hilton dat dit selfs agter die skerms ʼn uitwerking op hom gehad het.

“Die vlak van intensiteit waarbinne Bennie, en gebeure in die reeks, funksioneer, is geweldig hoog. Al die karakters in die storie is beslis die heeltyd besig om die chaos wat rondom hulle aan die gang is, te probeer verstaan en sin daaruit te maak.

“Ek wou graag daardie energie wat Bennie ervaar regdeur die verfilmingsproses volhou, en daarom het ek selfs na ʼn dag van verfilming by die huis of wanneer ek nou en dan af gehad het, aan die gang gebly.

Gérard Rudolf speel die rol van Boef Beukes in ‘Devil’s Peak’. (Foto: Maroela Media)

Devil’s Peak speel in Kaapstad af en volg Bennie, wat die taak opgelê is om die reeksmoordenaar, Thobela Mpayipheli (Henna), vas te trek. Sy moorde gryp die stad se verbeelding aan.

Bennie en Thobela se stories kruis met dié van Christine van Rooyen (Wyngaard), ʼn desperate ma wat bereid is om enigiets te doen om die lewe vir haar en haar dogter te verbeter. Die noodlot van dié drie karakters word verstrengel soos wat die reeks na ʼn klimaks opbou.

Devil’s Peak begin Sondag 29 Oktober om 20:00 op M-Net, DStv-kanaal 101, uitsaai.

Luister in hierdie video na wat Hilton, Gérard, Sisanda en Tarryn oor hulle voorbereiding vir die rolle in Devil’s Peak te sê het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.