Video: Beoordelaars, mentors van ‘Die Kontrak-3’ soek dít in ʼn wenner

Emo Adams, ‘n beoordelaar van ‘Die Kontrak 3’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Aanhangers van Die Kontrak-sangkompetisie sal op Vrydag 24 November op die Afrikaans is Groot-verhoog (AiG) uitvind of die Coleske-kontrak van R1 miljoen vir Chris Steyn of Mirandi Mörsner aangebied word.

Voorsmakies van beide Chris en Mirandi se moontlike wen-enkelsnitte, onderskeidelik getiteld “Heeltemal” en “As jy bid”, is onlangs op sosiale media gedeel.

Demi Lee Moore, voormalige Die Kontrak-wenner, het as Chris se mentor opgetree, terwyl engelstemsanger Tarryn Lamb vir Mirandi deur haar musikale reis gelei is.

Demi Lee het in 2018 met die wenkontrak weggestap tydens dié program se eerste seisoen. Sy beskryf Chris, wat die bynaam “Plakkies” gekry het danksy sy keuse van informele voetdrag op die program, se plek in die top-twee as ʼn volsirkeloomblik.

“Ek was eers ʼn wenner, toe ʼn aanbieder en nou ʼn mentor. Ek het dit vreeslik geniet om te help om talent te bou en te ontwikkel. Chris was ʼn blank canvas, want hy’t geen ondervinding nie, so ons kon lekker speel. Ek weet hy het my vertrou en dit is baie lekker om te sien hoe iemand leer, groei en uiteindelik met ʼn loopbaan kan wegstap,” het sy agter die skerms aan Maroela Media vertel.

Emo Adams, sanger en televisieaanbieder, vergelyk die proses om ʼn Die Kontrak-wenner te kies met die bak van ʼn koek.

“Soos ʼn koek, het die wenner die regte bestanddele nodig en daar is tog ʼn formule. Dit is natuurlik goeie talent, maar ook die regte look en die regte lied. Alles moet saam spot on wees.”

Karlien van Jaarsveld, wat ook vanjaar op die beoordelaarspaneel van die derde seisoen was, moedig die finaliste én opkomende sangers om hul hart te volg en nie hul sukses deur die grootte van hul skare te meet nie.

“Dit is nie te sê dat jy nie ʼn sanger is omdat jy net voor vyf mense sing nie. Jy is nogsteeds ʼn sanger. As jou skare meer intiem is, volg dit. Moenie noodwendig altyd droom oor dit wat groter is nie, want dit bepaal nie jou waarde as kunstenaar nie. Wees gemaklik met wie jy is.”

  • Volg Die Kontrak 3 se Facebook-blad om te sien wie as die wenner gekroon word.
  • Kyk Maroela Media se video agter die skerms van ‘Die Kontrak 3’ hier: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.