Video: e.tv klink ʼn glasie op splinternuwe sepie

Vinette Ebrahim en Sandra Prinsloo tydens die bekendstelling van ‘Kelders van geheime’. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Agter elke wynbottel en agter elke wynvat is ʼn geheim.”

Só beskryf Vinette Ebrahim e.tv se splinternuwe sepie, Kelders van geheime, wat op 6 Mei vanjaar die kassie tref.

Dié sepie spog met ʼn rits veteraan akteurs wat onder meer Ebrahim, Sandra Prinsloo, Nic de Jager, Cedwyn Joel en Brümilda van Rensburg insluit. Ander bekende gesigte wat in die sepie te sien is, is dié van Zak Hendrikz, Geon Nel en Duane Williams.

“Dit is baie opwindend, want ons kry die geleentheid om Afrikaans na almal toe te vat,” vertel Karen Meiring, uitvoerende vervaardiger van die reeks, aan Maroela Media.

Theltom Masimila (skrywer) en Karen Meiring (uitvoerende vervaardiger). (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Daar is nie ʼn betaalmuur nie en ʼn mens hoef nie noodwendig in te teken of geld te hê om die kanaal te kyk nie. Dit is vir ons baie opwindend.”

Die sepie is op die Plaisir-wynlandgoed in die Kaapse wynlande geskiet en draai om die Abrahams-, Systers- en Marais-gesin.

Die Abrahams-gesin

Edmund Abrahams (Duane Williams) is die wynmaker op Soebatskloof, en Nenna Abrahams (Vinette Ebrahim) is die afgetrede huishoudster en gasvryheidsbestuurder wat Edmund “ma” noem.

Die Systers-huishouding

Joey Syster (Cedwyn Joel) is die patriarg van die Syster-familie en woon en werk al sy hele lewe op Soebatskloof. Sandy (Riana Alfreds) is Joey se dogter en het Nenna se verantwoordelikhede oorgeneem. Sandy se oudste dogter, Debbie-Lee (Veronique Jephtas), werk saam met haar, terwyl haar jongste, Shireen (Vashti Prins), haarself vestig as ʼn algemene praktisyn in die Wynland. Phillip Smith (Dean Balie) is die man in Debbie-Lee se lewe.

Die Marais-familie

Die Marais-familie bly al vir dekades op Soebatskloof. Charl Marais senior (Nic de Jager) is die eienaar van die wynplaas, terwyl sy tweede vrou, Hermien Marais (Sandra Prinsloo), haarself met beeldhouwerk besig hou.

Tjoppie Marais (Geon Nel) is Hermien se seun uit haar eerste huwelik. Tjoppie het saam met Charl senior se kinders uit sy eerste huwelik grootgeword. Charl Marais junior (David Chevers) woon in Londen, en Annette Fourie (Ashley de Lange) bly in Australië saam met haar rugbyspeler-man, Du Toit Fourie (Zak Hendrikz). Lynn Fourie (Illse Roos) is Du Toit se “sosiale vlinder van die Wynlande”-soort mamma.

Veronique (Rushney Ferguson), Tjoppie se vrou, is die bestuurder van die restaurant op die plaas. CJ (Angelo Johnson), die egpaar se oudste kind, is vanjaar ʼn matrikulant aan Simonsvallei Gimnasium, waar Marco (Angelo Bergh), die egpaar se jongste, nou in graad 11 is.

Kyk na ʼn video van die bekendstelling hier:

  • Kelders van geheime word van 6 Mei op e.tv uitgesaai. Dit sal weekliks van Maandag tot Vrydag op die kassie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.