Video: Wie gaan Francois se hart wen in ‘Op my eish! 2’?

Francois Jacobs. (Foto: Verskaf)

In gisteraand (Donderdagaand) se episode van Op my eish! 2 het Francois sommer met die intrapslag elkeen van die vroue met ʼn paar veldskoene van Grondpad Vellies verras.

“My eerste vellies!” het Leyla opgewonde uitgeroep.

Ceylonia het skertsend gesê dat sy nog nooit meer Afrikaans in haar lewe gevoel het nie, terwyl Juané ook gaande was oor die verrassing.

“Nou, dié girl is super excited oor ʼn vellie. Ek sukkel gewoonlik om skoene te kry wat pas, want ek het groot voete. Mense dink as jy groot voete het, het jy breë voete ook. So gewoonlik is dit hierdie paddavoete van vellies wat hier voor jou is.

“Hierdie is die eerste keer dat ek ʼn vellie aantrek wat nommerpas is, so ek is uit my vel uit gelukkig.”

Ná die groot verrassing is daar nie soos ander kere in rivierstrome gebaljaar nie. Deelnemers moes vir ʼn verandering hulle breinkrag inspan toe Schalk hulle kennis oor Francois tydens die speletjiesprogram “Wie weet wat van Franna” getoets het.

Die bordjies is later verhang toe Francois ook ʼn paar vrae oor die vroue moes antwoord – en hy het homself nogal goed van sy taak gekwyt.

Later is Ceylonia, Leyla en Juané gekies om saam met Francois op ʼn laatmiddag wildrit te gaan in die suide van die Krugerwildtuin, gevolg deur ʼn romantiese skemerkelkgeleentheid.

In die tussentyd het Schalk by Nykie en Claudia gaan inloer en toe sommer ʼn paar ernstige onderwerpe aangeroer. Hy het ook verklap dat Francois reeds ʼn gunsteling in die oog het.

“Maar ek dink nog steeds dit gaan vir hom moeilik wees om die volgende twee deelnemers huis toe te stuur. Ek weet hy gaan nog die kat uit die boom uit kyk met die volgende paar dates, en ek dink ook hy moet nou sy gedagtes organiseer.”

Aan die einde van die tiende episode van Op my eish! 2, en met net drie episodes oor, is dit Claudia, Juané, Leyla, Nykie en Ceylonia wat nog hoopvol is om Francois se hart te wen.

Op my eish! 2 se vyf topdeelnemers

Claudia, ʼn 28-jarige naeltegnikus van Centurion, sê sy het vir Op my eish! 2 inskryf omdat dit ʼn avontuurlustige manier is om liefde te vind.

“Ek is iemand wat hou van my gewoontes en dit was die beste manier om daaruit te kom om moontlik liefde te vind.”

Sy sê lojaliteit, respek, ʼn beste vriend, sin vir humor en definitief iemand wat haar lompheid kan verstaan, is die belangrikste eienskappe waarna sy in ʼn man soek.

Die 26-jarige Juané, ʼn radiografis van Roodepoort, wou vanjaar uit haar gemaksone kom en iets doen wat sy nooit sou gedoen het nie. “Ek het ingeskryf vir twee dinge: ʼn avontuur en die kans op ʼn verhouding. Ek het gevoel met Francois sal ek al twee dinge kan ervaar.

“Ek is op soek na iemand wat saam met my die lewe kan geniet. Iemand saam met wie ek kan lag en pret kan hê, maar ook iemand wat daar vir my sal wees wanneer dinge ernstig of moeilik gaan raak,” sê Juané.

Net soos Juané was Leyla, ʼn 23-jarige digitale bemarker van Johannesburg, ook gereed vir ʼn nuwe avontuur.

“In die begin van die jaar het ek besluit dat ek myself gaan uitdaag en uit my gemaksone gaan kom, en toe hierdie geleentheid opdaag het ek dit dadelik aangegryp. Ek is definitief ʼn kansvatter omdat ek die meeste van my lewe wil maak.”

Kykers sal onthou dat Leyla en Nykie die ander vroue onkant betrap het toe hulle as buiteperde (wild cards) by die program aangesluit het. Nóg Francois, nóg die ander deelnemers was voorbereid op daardie oomblik.

Die 25-jarige Shané (Nykie), ʼn entrepreneur van Pretoria, sê sy was effens onseker toe die vervaardigers haar genader het om deel van die program te wees.

“Nadat ek met my naaste mense daaroor gepraat het en gebid het dat die Here my sal help om die regte besluit te maak, het ek met sekerheid ja gesê. Alles gebeur tog vir ʼn rede.

“Ek was baie op my senuwees voor ons die ander deelnemers ontmoet het. ʼn Mens verwag altyd die ergste en ek het net gedink hoe ek sou voel as die rolle omgeruil was. Maar tot my verbasing was hulle eintlik baie rustiger as wat ek verwag het.”

Wie eet pynappel op hulle pizza en watter deelnemer sal eerder vir ʼn week nie tandeborsel nie as om vir twee weke nie te stort nie? In hierdie video antwoord ʼn paar van die Op my eish! 2-deelnemers Maroela Media se vinnige vrae.

In die volgende episode kry die topvyf ʼn voorsmakie van hoe ʼn moontlike lewe in die kollig is met die Op My Eish! 2­-­mediakonferensie; nog ʼn deelnemer kry die trekpas en Schalk bederf Francois en die ander vroue met een van sy solovertonings.

Skakel volgende Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal) in vir die tweede seisoen van Op My Eish!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.