Wetenskapfiksiereeks trek opnuut plaaslike baadjie aan

(Foto: Showmax)

Die tweede seisoen van Showmax se gewilde wetenskapsfiksiereeks, Raised by Wolves, spog nou met ’n string bekende Suid-Afrikaanse gesigte.

Dié reeks se eerste seisoen was een van Showmax se tien topreekse in 2021, en is ook die grootste televisiereekse wat al in Suid-Afrika geskiet is.

Kim Engelbrecht (The Flash, Reika, Isidingo, Eye in the Sky) is nou deel van die reeks se rolverdeling. Engelbrecht se betrokkenheid by Raised by Wolves het haar boonop tot in IMDb se top-2 500 akteurs en aktrises gestoot.

Die reeks is verlede jaar in die Wes-Kaap verfilm, hoofsaaklik in Somerset-Wes, Stellenbosch en Kaapstad.

Good Things Guy  berig dat die reeks verskeie temas takel – ouerskap, geloof en kunsmatige intelligensie word in dié reeks verken.

Raised by Wolves handel oor twee androïede, hul ses menskinders en dié se bestaan op ’n nuwe aarde nadat ’n oorlog tussen gelowe die vorige aarde en sy mensdom vernietig het.

In die tweede seisoen trek die twee androïede met hul kroos na ’n nuwe kolonie – Kepler-22b se misterieuse tropiese sone. Hier word hulle opnuut weer deur die moontlike uitsterwing van die mens in die oë gestaar.

Die eerste twee episodes van die tweede seisoen is reeds op Showmax beskikbaar. Die derde episode sal op 11 Februarie beskikbaar wees, en nuwe episodes word elke Vrydag uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.