ʼn Groot algebloei het ʼn Australiese strand in ʼn gloeiende blou skouspel omgetower.
Die natuurlike verskynsel is by die Preservation Bay-strand in Tasmanië waargeneem. Volgens Gustaaf Hallegraeff, ʼn professor in waterplantkunde aan die Universiteit van Tasmanië, werk die organisme, Noctiluca scintillans, soos ʼn alarm. “As iets hulle bedreig, dan skyn hulle lig daarop en verwilder dit op dié manier.”
Die fotograaf Brett Chatwin het foto’s daarvan geneem en sê die toneel het hom sprakeloos gelaat. “Dit was ʼn asemrowende uitsig. Ons het nie enige wind in die laaste twee weke gehad nie.” Hierdie verskynsel kom voor wanneer die water kalm is.
Dié fitoplankton is nie giftig nie, maar dit kan vir sekere mense velirritasies veroorsaak. Hallegraeff het verduidelik die organisme teer op ander algespesies. “Dit tree op soos ʼn stofsuier en eet al die ander alge.” Dit kan die voedselketting versteur omdat skulpvisse dan sonder kos is.
In 1860 is dié alge die eerste keer in Sydney se hawe aangemeld. In 2012 het die Bondi-strand in Sydney gesluit toe dieselfde algespesie die see in rooi verander het.
Nou verstaan ek hoekom die Blou Bulle deesdae sulke power rugby speel, want hulle BLOU golf het in Australië vasgehaak!
Moenie komkommer nie WitBul…jou span het ‘n nuwe afrigter gekoop van Taiwan… Wewill Winsoon.