Boekklub lees 28 jaar lank aan een boek

Argieffoto (Foto: Hermann Traub / Pixabay)

Meeste boekklubs takel een boek op ʼn slag. Sommige klubs besluit om ʼn dik boek in korter dele op te deel sodat hulle dit oor ʼn paar maande kan bespreek.

Een boekklub in Kalifornië in die VSA het egter hul gekose boek in bladsye opgedeel – en elke bladsy afsonderlik gelees en indiepte bespreek.

Dit het die groep 28 jaar lank geneem om James Joyce se Finnegans Wake, wat berug is daarvoor dat dit moeilik is om te begryp, te lees, berig die Orange County Register.

Gerry Fialka het die boekklub in 1995 by die Venice-tak van die Los Angeles-staatsbiblioteek begin en tydens die pandemie op Zoom met die gesprekke voortgegaan.

Die groep het Dinsdag bymekaargekom vir die heel laaste bladsy.

Hoe lank kan mense ʼn enkele bladsy bespreek? “Twee ure,” lag Fialka.

Daar is nog nie enige volgende boek op die groep se kalender nie.

Finnegans Wake se laaste sin eindig in die middel van die sin, en word dan aan die begin van die boek voortgesit. Dis dus soos ʼn aaneenlopende sin wat op bladsy 628 eindig en weer op bladsy 3, die begin van die boek, voortgaan. “Dis ʼn sikliese boek – dit hou nooit op nie.”

Dinsdag was dus nie die laaste keer wat die groep ontmoet nie. “Dieselfde ding sal volgende maand gebeur, sê Fialka. “Ons sal weer bladsy 3 lees … daar is eintlik nie enigiets wat verander het nie.”

As mens die som doen, het die groep gemiddeld twee bladsye per maand gelees.

In Junie 1996 het die Los Angeles Times berig die groep trek nog net by bladsy 8 en verduidelik wat die boek só moeilik maak om te lees: “Joyce het 60 tale in sy speelse prosa verweef. Hy het woorde geskep soos “bababadalgharaghtakamminarronnkonnbronntonnerronntuonnthunntrovarr hounawnskawn toohoohoordenen thurnuk” – wat saamgestel is uit dele van woorde in verskeie tale vir “donderweer” om die eerste donderweer, of die eerste fase van samelewing, aan te dui.

Fialka se poging is nie die eerste van sy aard nie. In 2015 het die Boston Globe berig oor ʼn boekklub wat 18 jaar lank aan dieselfde boek gelees het.

Die Ierse skrywer Joyce het 17 jaar lank aan Finnegans Wake, sy finale werk, geskryf. Hy is 20 maande later in 1941 oorlede. Hy is ook bekend vir sy ander boeke, waaronder Ulysses en Dubliners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.