Debat oor faktuur vir trougaste wat nie opdaag nie

Die faktuur wat Doug Simmons op sosiale media gedeel het

Moet gaste betaal as hulle versuim om by ʼn onthaal op te daag? Een egpaar van Chicago in die VSA meen hulle moet beslis opdok.

Doug en Dedra Simmons het internasionaal opslae gemaak ná ʼn plasing op sosiale media van ʼn faktuur vir gaste wat nie vir die onthaal by hul troue opgedaag het nie. ʼn Debat is ontketen oor die faktuur – met sommige wat hulle daaroor geloof het en ander wat hulle skerp veroordeel.

Die Simmons-egpaar het onlangs trou aan mekaar beloof by die Royalton Negril Resort and Spa in Jamaika en hulle moes vooraf vir elke sitplek betaal. Alhoewel 109 mense genooi is, het slegs 101 opgedaag.

Ná herhaaldelike RSVP’s wat uitgestuur is, het dié agt gaste nie vir die egpaar in kennis gestel dat hulle nie die geleentheid kan bywoon nie. Die egpaar het reeds sowat $120 (ongeveer R1 700) per persoon betaal vir die ongebruikte plekke.

“As daai agt mense gesê het, ‘Doug, Dedra, ons kan dit nie maak nie’, dan sou ons begrip gehad het daarvoor en dit sou nie ʼn probleem gewees het nie,” het Doug gesê.

Toe die paartjie terugkeer huis toe, het Doug ʼn faktuur vir die koste van twee sitplekke opgestel en dit op sosiale media gedeel. “Ons was nooit van voornemens om dit uit te stuur nie. Dis erger om dit net te wys.”

Die faktuur, “No Call, No Show Guest”, verduidelik: “Omdat jy ons nie gebel of in kennis gestel het dat jy nie die geleentheid kan bywoon nie, is hierdie bedrag wat jy ons skuld vir die sitplekke wat ons moes betaal.”

Doug en Dedra bedryf elkeen ʼn klein onderneming en sê hulle word van oor die wêreld heen ondersteun. Maar sommige mense was glad nie beïndruk nie.

“Hulle het gesê dis hoe arm mense optree,” het Dedra bygevoeg. “Hulle reken ons moes nie ʼn troue gehou het as ons dit nie kon bekostig nie. Hulle beskryf dit as smaakloos en stylloos.”

Die pasgetroudes sê egter dit gaan glad nie oor die geld nie – alles is reeds betaal. Die faktuur was eintlik net om ʼn boodskap uit te stuur, omdat hulle seergemaak gevoel het deur gaste wat nie opgedaag het vir hul droomtroue nie. “Ons sou hulle die voordeel van die twyfel gee as hulle ons gekontak het, maar die feit dat jy nie eers moeite gedoen het om ons te laat weet nie … Ek wou hê dit moet ʼn bietjie opvoeding wees,” het Doug verduidelik.

Die egpaar het vier keer vir gaste gevra om te bevestig dat hulle wel die geleentheid sal kan bywoon.

DON'T BE OFFENDED WHEN I SEND THIS #INVOICE TO YOU. IT'S GONNA LOOK SOMETHING LIKE THIS. I'LL BE SENDING IT VIA EMAIL…

Posted by Septimbur Petty on Monday, August 23, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Niklaas ·

Ek moes dit ook destyds met my troudag se 4 vermistes gedoen het. Twee paartjies was genooi en ek het duidelikheid telkens navraag gedoen , wie kan dit bywoon al dan nie. Van hierdie 4 het ek ook die nodige e-pos bevestigings gekry . Die volle bedrag vir onthaalkoste moes ek reeds betaal het voor die troudag .En toe daag hul net nie op nie. Een paartjie het die volgende dag verskoning aangeteken , met die flouste denkbare rede wat verskaf was . Natuurlik is hul 4 glad nie meer boesemvriende nie. Dis nou sommer onbedagsaam , moedswillig en ook geldmorsend

Chantel ·

As ek dit weer oor kan doen, sal ek wraggies vir die mense wat RSVP het en net eenvoudig nie opdaag nie, ‘n faktuur stuur. Dis swak styl. Ons het ook sulkes gehad.

VaalDonkie ·

Ek sou nie geld vra nie, net vriendelik versoek om nooit weer met my te praat nie. Behalwe as iemand daai dag dood is. Dis die enigste verskoning om iemand se troue te mis nadat jy ingestem het om te kom.

Misky ·

Daai geld is uit jou sak en jy het betaal, ongeag of die gaste daar was of nie. Dan gaan jy weet of hulle werklike vriende is of jou net gebruik of vals is. ‘n Geldige verskoning is ook aanvaarbaar en daar kan wel iets onvoorspelbaar gebeur. Kleinlik van die Simmons egpaar

Janine ·

Rerig? Die gaste het VIER keer bevestig Ingeval jy dalk nie weet, mens betaal MAANDE vooruit.

Susan ·

Vriende van my se dogter het getrou, en omdat hulle al so stel afgetrap het, was die uitnodiging as volg: As jy die troue bywoon, betaal asb R800 in die volgende rekening in. Die wat opgedaag het vir die troue het sy R800 by die onthaal terug ontvang vir drankies. Ek dink was ‘n goeie idee vir die gaste wat se ja en dan moet jy hulle fooi ook betaal!

Meisie ·

Ek is tans verloof en ons het dieselfde idee gehad, dit verhoed dat mense streke trek en net nie opdaag nie! Al daag hulle nie op nie dan jaag dit ons darem nie uit die sak uit nie, troues is peperduur soos dit reeds staan.

Blits ·

Wat daarvan as hulle geldelike probleme gehad het? Dan nooi hulle jou omdat hulle jou daar wil he. Finansies of te not, ek sal ‘n rekening stuur.

VaalDonkie ·

Ons is 9 jaar gelede getroud. Het my ‘n hele R180 per kop gekos. En dit was by ‘n wynplaas langs die Breederivier. Julle mense wat so derduisende Rande op troues uitgee hoort julle te skaam.

Lizette ·

As mense geantwoord het met n bevestiging dat hulle kom en by die troue nie opdaag nie,dis swak, tensy baie skielike siekte of ongeluk of dood hulle verhinder het om op te daag,net n flou verskoning -laat hulle betaal!

Mallie ·

Dis reg. As jy iemand nooi wat nie die ordentlikheid het om te kanselleer nie, dan moet hulle betaal.

VannieBaai ·

Niks minder as reg nie! Die gepeupel het baie te sê na so troue en ervaar dit net as ‘n “gratis eetsessie”, maar as daar vir die mense betaal moet word wat nie eens opgedaag het nie, dan is dit nie net ‘n teken van disrespek teenoor die bruidspaar nie, maar ook ‘n teken van swak gedrag en eiewaan.

maria ·

Ek voel nogal saam met hulle. Dit is uiters onbeskof om n uitnodiging aan te neem en dan sommer maar net nie op te daag nie. Dit is tog net selfrespek om op ‘n ja antwoord , verskoning te maak indien dit ‘n nee word later. hoe kan jy respek vir jou gevoelens verwag as jy geen vir ‘n ander het nie.

Louise ·

Ek was by ‘n troue en moes die helfte van die bord kos betaal om so te RSVP en dit was glad nie ‘n probleem nie, want die wat betaal het wou daar wees om die spesiale dag te deel met die bruidspaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.