Egpaar deel foto’s van doodgebore baba op sosiale media

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Foto’s van ʼn ma wat haar babadogtertjie se lewelose liggaam vashou kort nadat sy doodgebore is, is reeds meer as 300 000 keer op sosiale media gedeel.

Natalie Morgan, ʼn vrou van Florida in die VSA, het die foto’s van haar en haar man, Brian, se babadogtertjie op Facebook gedeel en gesê dit moet as ʼn herinnering aan al wat ’n ouer is dien hoe groot seën kinders is.

Saam met die foto’s het Natalie vertel hoe hulle ongeveer drie weke gelede hul babatjie op 40 weke verloor het. Sy het gesê sy het die aand gaan slaap en gevoel hoe Eleanor binne haar baarmoeder skop. Toe sy wakker word, was Eleanor stil. Hulle het dadelik hospitaal toe gejaag waar dokters ʼn sonar-ondersoek gedoen het.

“Ek het geweet. Ek het net geweet. Ek wou nie weet nie…,” het sy geskryf. Die dokter het aan hulle gesê dat Eleanor geen hartklop meer het nie. “Op daardie oomblik het ek vasgevang gevoel asof die dak op my ineenstort. Ek kon nie asemhaal nie. Ek het uitgebars, ek het geskree, ek het goed gegooi, ek het opgegooi … en toe is ʼn deel van my saam met haar dood.”

Omdat Natalie reeds so ver swanger was, moes sy normaal geboorte gee. Ná ure in kraam is die liggaam van hul dogtertjie uiteindelik op haar bors neergesit. “Ek het haar deur my trane gesmeek om wakker word. Sy was pragtig. Sy was volmaak. Ek het haar so lief,” het sy geskryf.

Die egpaar kon ses ure saam met hul dogtertjie deurbring waartydens ʼn fotograaf foto’s geneem het terwyl hulle haar bad, soen en vashou. Die dogtertjie is ʼn week later begrawe.

“Al wat ek kan sê, is my baarmoeder, my hart en my arms is leeg. Daar is so baie van julle wat babas het wat gaan huil elke keer as jy hulle probeer neersit. Maar onthou asseblief, terwyl jy 03:00 in die oggend wakker is omdat jy ʼn baba in jou arms het wat jou wakker hou, is ek 03:00 in die oggend wakker, want ek het nie,” het sy geskryf.

“Al wat ek vra is wanneer jy jou donker oomblikke met jou baba het, eerder as om jou kind te smeek om te slaap en deur jou frustrasie en uitputting ingesluk te word, vind ʼn klein bietjie krag om ʼn gebed van dankbaarheid te bid vir jou kind, so moeilik as wat dit in daardie oomblik mag wees. En as jy kan, bid vir my en al die ma’s wie se kinders te vroeg weggeneem is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Nina ·

Dis ongelooflik hartseer. Wat ‘n pragtige gebaar van die mamma en pappa. Mag hul seer minder word.

Dankbaar ·

Elke dag is ek sprakeloos en dankbaar. Om na my 18 maande oue wonderwerk seuntjie te staar is my stokperdjie. Ek verstaan hierdie arme mense se hartseer, ons was 17 jr getroud en ek 41 voor ons die vreugde van ouerskap kon ervaar.

Linda ·

En nou tjank ek ‘n hond uit ‘n bos! Dit is so verskriklik hartseer maar tersefldertyd pragtig! My hart is by daai mamma en pappa.

Peet Schabort ·

Ja, ek (ons) weet wat dit is om fisies self ‘n kissie onder in ‘n graf neer te sit. Een van die dae sal dit al 48jaar gelede wees. Dit voel soos gister.
Onthou dus dat dit ‘n voorreg is al gee God ‘n kind vir jou net vir ‘n paar jare.
Ja, ons het nog ‘n seun en dogter maar . . .

Dankbaar ·

Die pyn wat die ouers beleef voel ek elke dag omdat ek self daardeur is. Vandag is ek bevorig om twee pragtige kinders te kan sien grootword na die pyn en hartseer waarin my gesondheid amper die twee wonderwerkies se lewens gekos het! Elke dag is n seen saam met hulle en ek weet dat elke lag of drukkie word met liefde en oorgawe gegee. Elke keer as hulle siek is sit ek met geduld en waak oor hulle. Snaaks hoe n ouer dan met net twee ure slaap sal klaarkom, maar selfs in daardie tye verruil ek hulle nie. Ek is elke dag dankbaar vir klein, nat en soms taai bek soentjies!

Peet Schabort ·

Dit was as’tware ‘n gewoonte by sommige van die oumense om die baba of kind ook te fotografeer in die doodskissie vir ‘n nagedagtenis.
Die foto’s ontstel my nie want ek is so grootgemaak dat die lewe en die dood normaal is en nie geskei word van mekaar.
As kinders kon ons gaan afskeid neem van iemand deur aan haar/hom te vat en selfs ‘n afskeidsoen. Dit help geweldig baie om die werklikheid van die heengaan van ‘n geliefde te verwerk en te aanvaar. Ek kan net dankie sê aan my ouers vir dit.

Daleen Linde ·

Ek weet. Ek ken daai seerste seer. 15 jaar gelede moes ek daardeur. My hart gaan uit na julle as ouers. Nog n engeltjie by myne in die hemel. Xx

Sonja ·

Na ‘n moeilike nag met 2 kleingoed, is die ongeduld vanoggend baie… En hier kry ek so skaam, want ek het die voorreg om hulle wel te kan vashou en hulle armpies om my nek te kan voel.. Maak my weer net intens dankbaar en baie meer geduldig… Dankie vir hierdie mamma & pappe se boodskap, so jammer vir julle pyn.

Daleen ·

Ons het ‘n seuntjie van 17 maande, 14 jaar gewag vir hom.. ons staan nou nog op in die aand om by sy bedjie te staan en net te kyk of dit nie ‘n droom is nie en dat hy regtig by ons is. Hom gekry toe hy 7 weke oud was. Dankie aan ons aardse engel wat hom aan ons gegee het ons sal jou jou altyd waardeer en koester.

ria moolman ·

Ja, op daardie een kan ek ook sê, dis ‘n eina wat net nooit wggaan nie, my seun is vir 29jaar vir ons geleen en nou al 10jaar weggevat en steeds bly die hartseer en verlange, ek het darem die voorreg gehad om sy 4 dogtertjies groot te maak, 1jaar, 5, 6, 7 jaar, 2 het nou al matriek geskryf, maar vir my lewe hy in my hart, lief jou nog steeds my kind, Polla

dewald ·

Ek en my vrou het 4 maande terug ons dogtertjie so verloor.Sys gebore met n keiser en het 2 keer asem gehaal en toe is sy dood.Dis n seer wat mens nie kan beskryf nie.Ek mis my engeltjie elke dag,my klein Charmone.Ons het n seun van 8 jaar en hy is ons alles.Ons het so uitgesien na haar.

Elani ·

Ek lees die artikel, ek lees die kommentare. Die is seer, gaan nooit weg nie. Dis gemis bly by jou en deel van jou elke dag. EK het myne verloor 15 jaar gelede, sy was 7 en ‘n half maande oud, gebore met hartprobleme. Sou nou 16 gewees het. Ek huil nou nog. Soos Peet hier bo noem, ek het twee seuns nou, ek is danbaar vir hulle, vertel elke dag hoe lief ek hulle het en hoe dankbaar ek is, ek bid elke dag vir hulle veiligheid. Ek is dankbaar, maar ek mis haar geweldig baie. Mamma en pappa, ek bid dat God julle sal toevou in Sy arms en dat julle beter sal word. Mens word nie gesond nie, jy word beter want jy leer om daarmee saam te kan leef.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.