Foto’s: Vrou maak seker dis die kleurvolste Januarie

Januarie is gewoonlik ʼn maand wat maar droewig is – mens is gewoonlik platsak ná ʼn vrolike Desember, en die maand word gereeld vereenselwig met verandering. Veral in 2022 het ons almal gehoop dat dié jaar iets anders sou inhou as ʼn pandemie wat nou al byna twee jaar lank voortduur.

Een vrou het egter seker gemaak dis die kleurvolste maand ooit. Mode-ontwerper Taryn de Vere, wat haarself as “moontlik die kleurvolste vrou in Ierland” beskryf, het besluit om elke dag soos ʼn huishoudelike item in haar huis aan te trek.

Van sjokolade tot ʼn sakkie meel, ʼn buisie tandepasta of ʼn sakkie aartappels en selfs skoonmaakmiddels en ʼn sakkie kerriepoeier.

Sy het met dié kreatiewe idee vorendag gekom toe sy besef het dat sy die grootste deel van die maand waarskynlik by die huis gaan wees weens kommer oor Covid-19. Die enigste reël? Sy mag nie enigiets nuut koop om die uitrustings te skep nie. As ʼn mode-ontwerper het sy egter meer klere as meeste ander mense om mee te speel.

Sy trek al die afgelope dekade gewoonlik kleurvol aan ná sy ʼn verhouding gebreek het waar sy mishandel is. As deel van die genesingsproses het sy meer flambojant begin aantrek om al hoe meer haarself te probeer wees.

Haar grootste verwagting is dat mense sal glimlag wanneer hulle die foto’s sien wat sy op haar sosialemedianetwerke deel. Sy deel op haar Instagram ook video’s hoe sy die spesifieke uitrusting saamgestel het.

Haar uitrustings het intussen wêreldwyd aandag getrek. De Vere, oorspronklik van Sydney in Australië, het al TV-onderhoude en gesprekke gehad met media in Brittanje, Duitsland, Australië en die VSA.

Volg Taryn de Vere op Facebook, Twitter of Instagram

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sandra ·

Ek het hierdie berig en fotos nou vreeslik geniet. Wat ‘n pragtige vrou. Kudos vir haar dat sy uit die toksiese verhouding onttrek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.