Jy sal moet blikskud vir dié blikbekers

Foto ter illustrasie. (Foto: Vanesa Giaconi/Unsplash)

Suid-Afrikaners het nie geskroom om van hul te laat hoor toe ʼn R200-blikbeker onlangs op die rakke van ʼn plaaslike klerewinkel verskyn nie.

ʼn Beker wat ʼn bekende deel van tientalle Suid-Afrikaanse kombuise vorm, word nou as ʼn mode-item beskou, en gaan jou boonop net soveel uit die sak jaag.

Sosialemediagebruikers het hul misnoeë met dié saak op Twitter uitgespreek, en het sommer ook van die goedkoper, soortgelyke bekers in hul eie kombuiskaste laat weet.

“Lekker boeretroos in regte enamelbekertjies wat nie ʼn plaas se prys kos nie,” het een gebruiker saam met ʼn foto van sy eie blikbeker gedeel.

Dié moderne bekertjies word in pienk, blou en groen verkoop en sal jou ʼn allemintige R199,00 een uit die sak jaag.

Sommige Twittergebruikers het gou gespring om te sê dat hulle soortgelyke bekers op Takealot vir veel minder kon aankoop. ’n Stel van ses kos maar R130,00 by dié aanlyn winkel.

Ander gebruikers het gesê dat dié bekertjies iets is wat hulle sal oorweeg vir hul eie kombuise.

“Moenie kwaad wees nie, maar ek dink dit is nogal oulik … ek sal R199 betaal,” het een gebruiker geskryf.

  • Koop hier vir jou ʼn regte, egte Maroela Media-blikbeker by ons eie Koöperasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

melaney ·

Terwyl Jan Publiek gewillig is om enigiets te betaal, gaan kleinhandelaars hulle pryse opstoot. Dit is tyd dat sulke besighede geboikot word. Ek was net eenkeer in Cotton On gewees. Niks gekoop en sal nooit weer instap nie.

Anel ·

Ek kan ook op gewone blikbekers druk. Maar kan nie dink dat ek soveel sal kan vra nie. Daar is wel spesiaal behandelde bekers en hulle prys is naby die geadverteerde prys. Maar ek sal nie sommer so iets verkoop nie tensy ‘n kliënt dit versoek.

Mariana ·

Nee wat elkeen moet vir hulself besluit. Ek het ook van die oorspronklike bekertjies, met merkies en al. Asook die blikborde en gebruik hulle elke dag, maar sal beslis nie soveel betaal vir een nie.

LeanetteS ·

R5 winkel, hier kom ek, daar is dit maar R30 n bekertjie!!! Hahahahhaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.