Kunsmatige intelligensie help om katte se pyn te herken

Foto slegs ter illustrasie. (Foto:
Krysten Merriman/Pexels)

Katte kla mos nie, wel miskien as hulle ʼn tweede happie sappige katkos soek, maar beslis nie as hulle pyn ervaar nie. Hierdie gewoonte van kattekinders om hul pyn weg te steek laat menige besorgde eienaar goed kopkrap oor of hulle wel ʼn draai by die veearts moet maak of nie.

Gelukkig kan eienaars nou ʼn slimfoon gryp, want die Carelogy-tegnologiefirma en die Nihon Universiteit in Tokio het saamgespan om ʼn app te ontwikkel wat sal kan sê of jou vierpotige vriend enige pyn verduur.

Sedert die app se bekendstelling in Mei is die “Cat Pain Detector” reeds deur 43 000 gebruikers afgelaai. Die meeste gebruikers is in Japan, waar katte as gelukkig beskou word en eienaars van dié troeteldiere groot geld spandeer op hul versorging, maar daar is ook gebruikers in Europa en Suid-Amerika.

Dit vorm deel van ʼn groeiende reeks tegnologiese toepassings wat troeteldiereienaars kan gebruik wanneer hulle besorg is oor hul harige vriende se welstand. Soortgelyke apps is ook al in Kanada en Israel ontwikkel om pyn en buie van troeteldiere te monitor.

Die firma en universiteit het 6 000 foto’s van katte versamel waarin hulle die posisies van die diere se ore, neuse, snorbaarde en ooglede noukeurig bestudeer het.

Daarna is ʼn puntestelsel ingespan wat deur die Universiteit van Montreal ontwerp is om klein verskille te meet tussen gesonde katte en katte wat pyn weens moeilik opspoorbare siektes ervaar.

Vervolgens het die app-ontwikkelaars die inligting in ʼn kunsmatige intelligensie (KI) -opsporingstelsel ingevoer, wat sy vaardighede verfyn het danksy ʼn verdere 600 000 foto’s wat deur gebruikers opgelaai is, het Go Sakioka, hoof van Carelogy, verduidelik.

Sakioka meen die app het “ʼn akkuraatheidsvlak van meer as 90%”.

“Ons wil kateienaars help om makliker tuis te oordeel of hulle ʼn veearts moet besoek of nie,” het Sakioka gesê.

Die “Cat Pain Detector” word ook reeds deur sommige veeartse in Japan gebruik, ʼn land wat bekend is vir Hello Kitty en waar toeriste na kat-kafees stroom en sommige klein eilande deur dwalende katte oorval word.

Sakioka waarsku egter dat die KI-stelsel self nog meer akkuraat moet wees voordat dit uiteindelik as ʼn gestandaardiseerde hulpmiddel gebruik kan word.

Hoekom versteek katte hul pyn?

Katte is goed daarmee om hulle pyn en ongemak weg te steek omdat dit hulle waarskynlik beskerm teen roofdiere wat ouer en siek diere teiken as prooi.

Volgens die kenners by Hill Pet-troeteldierkosmaatskappy sal enige teken van swakheid ʼn wilde kat meer kwesbaar maak, maar dit sal ook daartoe bydrae dat hulle in ʼn trop geboelie word of uitgeskuif en agtergelaat word.

Alhoewel vandag se huiskatte oor die algemeen nie bekommerd hoef te wees dat hulle prooi gaan word nie, kan hulle ander troeteldiere in die huis – of selfs ander mense – beskou as kompetisie vir hulpbronne soos kos en water.

Of dit nou gedryf word deur ʼn diep ingeburgerde instink of gaan oor oorbeskermende katte-logika, katte vrees dat enige teken van pyn sal veroorsaak dat hulle aan die kortste ent gaan trek, wat hulle aanmoedig om hul simptome te verberg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.