Kykers gril vir Aussie wat rou hoender eet

Sosialemediagebruikers gril vir foto’s van ʼn man van Australië wat oënskynlik rou hoender eet by ʼn winkelsentrum in Adelaide.

Volgens News.com.au het die kaalvoetman sy ete op ʼn roltrap by die Westfield Marion-winkelsentrum in Oaklands Park geniet.

Die foto’s het wyd op sosiale media versprei en ʼn rits reaksies uitgelok. Talle mense is besorg oor die man se gesondheid weens die moontlike voedselvergiftiging wat hy kanopdoen.

“ʼn Voedsame, heerlike middagete van rou hoender by Westfield Marion,” lui die beskrywing by die foto’s wat op Instagram gedeel is.

Kykers gril vir die foto’s en sommige gebruikers het kop gekrap oor die man se bisarre optrede. Van die kykers het gespekuleer dat die man moontlik onder die invloed van dwelmmiddels kan wees en ander meen hy wou dalk doelbewus siek word sodat hy ʼn week lank siek afgeboek kan word.

“Hierdie kalant is so besig, hy het nie tyd om te sit en te eet, skoene aan te trek of sy kos gaar te maak nie. Daar is min mense wat sy skedule sal kan verstaan,” skryf een persoon.

“Wat ʼn absolute barbaar – hy begin in die middel van die pakkie in plaas daarvan om van links na regs die stukkies te eet,” skerts nog iemand.

“Kan iemand asseblief bevestig of hierdie man nog lewe?” vra ʼn derde persoon.

Nog ʼn kyker wou hê iemand moet bevestig of dit regtig rou hoender is, of dalk is dit net oëverblindery en dit is eintlik stukkies ham wat in iets opgerol is.

Die Australiese voedselowerheid het gewaarsku dat rou pluimvee en vleis moontlik skadelike bakterie kan bevat soos salmonella, listeria, kampilobakter en E. coli wat voedselvergiftiging kan veroorsaak. “Maak seker maalvleis en pluimvee is deeglik gaar. Kook pluimvee, maalvleis en wors totdat dit goed gaar is, regdeur tot die middel. Daar moet nie enige pienk kleur wys nie,” lui die waarskuwing.

Die Sentrum vir siektebeheer en voorkoming (CDC) het ook bepaal dat rou hoender gewoonlik besmet is met bakterie soos salmonella, kampilobakter en Achalme se basillus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.