Man en sy hond het om die wêreld gestap

Tom Turcich en Savannah (Foto: The World Walk/Facebook)

Die 33-jarige Tom Turcich van New Jersey in die VSA het onlangs teruggekeer van ʼn reis te voet om die wêreld. Hy is die 10de mense wat om die aarde loop, maar sy genoot Savannah, ʼn apporteerhond-kruising, is amptelik die eerste hond wat dit kon regkry.

Hy het einde Mei ná sewe jaar teruggekeer na New Jersey met die wêreld se ervaring en baie stories om te vertel.

Tom het Haddon in 2015 verlaat – die dag voor sy 26ste verjaarsdag. Hy het ʼn vier maande oue Savannah aangeneem toe hy deur Texas gestap het.

Tom het deurgaan sy avonture op sosiale media gedeel en sy reis “The World Walk” gedoop.

“Dit was sewe jaar se gestap, 28 000 myl en 38 lande,” het hy gesê. “Ek is ʼn ander mens. Ek kan my nie eers indink hoe ek was toe ek begin het nie, dit is ver verwyder van die persoon wie ek nou is.”

Hy het as tiener ʼn vriend verloor en is geïnspireer om elke dag ten volle te leef. Met behulp van borge soos Philadelphia Sign het hy die afgelope sewe jaar allerhande vreugdes en gevare trotseer. Tom se volgende avontuur? Om ʼn boek oor sy ervaring te skryf. Hy sê Savannah is gereed om af te tree.

“Op 2 April 2015 het ek my huis in New Jersey verlaat om ʼn vyf jaar reis oor sewe vastelande te onderneem,” sê Tom. “Die droom om rondom die wêreld te stap het begin toe ek 17 jaar oud was en my vriendin Ann Marie oorlede is. Ná haar dood het ek besluit om die beste van elke dag te maak. Ek wou om die wêreld stap om onbekende plekke te besoek en elke dag ʼn avontuur te beleef. Ek het in Texas ʼn hond, Savannah, aangeneem en sedertdien het ons elke grens saam oorgesteek. Savannah is my beste vriend en die beste stapgenoot.”

Op 3 April vanjaar het hy die volgende inskrywing gemaak: “My eerste verjaarsdag op die reis was op die tweede dag van sy stappery. Ek het dit gevier deur ʼn sigaar te rook – slegs 56 km van my huis af. My tweede verjaarsdag het ek gevier deur saam met vriende in Bogotá te kuier. Op my derde verjaarsdag het ek fees gevier saam met veraf familielede in Uruguay. Vir my vierde verjaarsdag het ek deur die reën in Duitsland gestap en gesukkel om te herstel van ʼn bakteriële infeksie. My vyfde was in Toskane – ek het middagete op ʼn Michelinster-restaurant afgekom en die aand dronk geword op wyn van Toskane. My sesde was ʼn Covid-afsondering in Azerbaijan. My sewende verjaarsdag was ʼn week lange vakansie op die Middellandse see, danksy vriende in Turkye. En die agtste, vandag, lyk soos ʼn spieëlbeeld van my eerste. Ek sal stap en uitkamp, maar hierdie keer met ʼn genoot saam met my en met die uitsig van huis toe gaan. Ek is vandag 33 jaar oud. Die agt verjaarsdae op die pad was elkeen onverwags en wonderlik. Dit het my die gawe aangeleer om blye, onverwagte dinge te ontdek. Om die vreemde tegemoet te gaan. Om weg te bly van roetine. Om nuwe vriende te maak en wonderlike avonture aan te pak.”

Hy sê vreemd genoeg het hy nie opwinding of angstig gevoel toe die eindstreep aangebreek het nie. “Ek het slegs verligting gevoel. Dit was sewe lang jare. Om die waarheid te sê, dit voel soos twintig jaar. Ek het wonderlike avonture gehad, maar ek het my vriende en familie gemis. Ek het daarna uitgesien om in ʼn bed wakker te word en te weet dit is nie nodig om myself aan die elemente elke dag bloot te stel nie. Daardie dag het nou uiteindelik aangebreek. Ek kan nie ʼn beter einde voorstel vir The World Walk nie. Dankie aan elkeen wat my en Savannah langs die pad ondersteun het, en baie dankie aan almal vir die verwelkoming tuis. Dit was my eer om my droom met julle te deel. Volgende is die boek …”

Volg Tom se avonture op sy webwerf: http://theworldwalk.com/ 
Op Facebook: https://www.facebook.com/TheWorldWalk/
Op Instagram: https://www.instagram.com/theworldwalk/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hannelie ·

Bly om te sien Savannah het ook “skoene” gedra en ek glo soms in die stootwaentjie gery.

Sandra ·

Dis wonderlik, en hy is baie braaf. Met so ‘n oulike metgesel kan jy nie anders as om jouself te geniet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.