Man suur oor hy net lekkergoed kry vir ʼn tjek van miljoene

Argieffoto (Foto: Alexa/Pixabay)

Die manier hoe ʼn lekkergoedmaatskappy reageer het op ʼn man se goeie gebaar het hom met ʼn slegte smaak in die mond gelaat.

Die Duitse koerant Bild het vroeër vandeesmaand berig ʼn man genaamd Anouar G. was een dag op pad huis toe deur die Bürostadt Niederrad-treinstasie in Frankfurt toe hy ʼn klein papiertjie in die wind sien wapper het. Dit was ʼn tjek van €4 631 538,80 (meer as R83 miljoen) vir die lekkergoedmaatskappy Haribo.

Die tjek, van DZ Bank, is deur die Duitse supermark Rewe aan Haribo uitgereik.

Anouar het die verantwoordelike ding gedoen en Haribo gekontak. Toe ʼn prokureur van die maatskappy hom skakel, is hy versoek om die tjek te vernietig en fotobewyse daarvan aan te stuur.

ʼn Paar dae later het Haribo vir hom ses pakke Haribo-jellielekkers gestuur om dankie te sê.

“Ek het gedink dis nogal goedkoop,” het Anouar aan Bild gesê.

Haribo maak nie sy ware winste publiek nie, maar Forbes het in 2013 dit op “meer as $3 miljard” bereken.

Mense op sosiale media is verdeeld in hulle mening of Anouar meer van Haribo verdien het.

“Julle tree op asof mens net ʼn tjek kan gaan deponeer en dat dit nie enige rooi vlaggies sal opsteek nie,” sê een persoon.

“So hy het een waardelose stukkie papier (waardeloos want hulle sou die tjek gekanselleer het sodra hulle besef het dit is verlore) verruil vir ses pakke lekkergoed. Dit klink vir my soos ʼn goeie uitslag vir hom,” skryf ʼn ander.

“Ek sou in die bank in gestap het en gemaak het of ek mnr. Haribo is!” erken nog ʼn gebruiker.

Haribo het vroeër aan ʼn verslaggewer by Bild gesê die tjek was aan Haribo uitgemaak, so die maatskappy was finansieel nie in enige gevaar nie en dat dit ʼn standaard pakkie was wat deur die maatskappy as ʼn dankie-sê aan enigiemand gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Hoekom moet mens altyd ‘n groot beloning verwag as jy die regte ding gedoen het? Die beloning lê vir my daarin dat jy weet jy het dit gedoen en basta.

VaalDonkie ·

Jy is nie verkeerd nie. Maar AS iemand besluit hulle wil jou beloon, dan moet die beloning darem min of meer in verhouding met die goeie daad wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.