Slim vang sy baas in ontsnapkamer

Tydens die speletjie is ʼn mens veronderstel om uit ʼn ontsnapkamer te breek, maar dié inbreker kon nie die raaisels baasraak nie.

ʼn Man in Vancouver, Washington in die VSA, moes die polisie se hulp ontbied nadat hy by NW Escape Experience ingebreek het en nie kon ontsnap nie.

“Toe ons gesien het die skade is minimaal, het ons gedink dit is skreeusnaaks,” het Rob Bertrand, eienaar van die onderneming, aan CNN gesê.

Ontsnapkamers het die afgelope paar jaar in gewildheid toegeneem. Groepe moet binne ʼn beperkte tyd saamwerk, leidrade opspoor en raaisels oplos om uit die vertrek te ontsnap. In Suid-Afrika is daar verskeie ondernemings wat ook ontsnapkamers aanbied, soos onder andere HintHunt, Mindgame en Hashtag Escape.

Die inbreker het Sondagoggend egter onwetend aan dié spanbou-oefening deelgeneem.

“Hy het homself tuisgemaak,” het Bertrand verduidelik. “Hy het selfs bier uit die yskas gesteel.” Die man het glo ook ʼn selfoon en ʼn afstandbeheerder gesteel.

“Die man wou uit die agterdeur ontsnap, maar hy het dit só erg beskadig toe hy wou inbreek, dat hy dit nie weer kon oopmaak nie. Daarna het hy 911 van die ontvangstoonbank gebel. Hy het uiteindelik die agterdeur kon oop kry, maar ʼn polisiebeampte het hom voorgekeer en in hegtenis geneem,” het Bertrand bygevoeg.

Meeste groepe spandeer tussen 50 en 58 minute om uit die vertrek te ontsnap. Die rekord by dié onderneming is 33 minute.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.