Span smelt trofee om dit met aanhangers te deel

Die trofee word gesmelt (Foto verskaf deur Ajax)

Die Nederlandse sokkerkampioene Ajax het sy Eredivisie-trofee gesmelt en dit in ʼn rits stervormige aandenkings vir sy ondersteuners verander. Die ondersteuners was die seisoen nie in staat om fisies hul span te ondersteun nie, weens Covid-19-beperkings.

Ajax sal sowat 42 000 “kampioensterre” aan sy seisoenkaartjiehouers uitreik om saam met hulle in die vreugde te deel ná hulle die titel vir die 35ste keer verower het.

“Ons moes hierdie seisoen grootliks sonder ons ondersteuners speel – sonder dat hulle op die pawiljoen kon sit. En tog het ons elke week hulle ondersteuning gevoel,” het Edwin van der Sar, spanbestuurder, gesê. “Toe ons voorheen gesê het ‘hierdie titel is vir jou’ wou ons te kenne gee dat ons dit vir die ondersteuners doen, maar om die trofee te deel is die absolute bewys dat dit regtig só is. Ná ʼn deurmekaar jaar, maak ons seker dat aanhangers deel voel van ons kampioenskap.”

Elkeen van die sterretjies weeg 3,45 g – altesaam 0,06 g is materiaal wat direk van die ligatrofee af kom.

“Ons wil hierdie titel aan ons ondersteuners opdra,” het Ajax-kaptein Dusan Tadic bygevoeg. “Ons het hulle die afgelope seisoen baie gemis hier in Amsterdam en tydens ons wedstryde. Ons kan nie wag om weer voor hulle te speel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.