Tafelberg, die Krugerwildtuin, Kimberley se groot gat en die Addo-olifantpark – dié besienswaardighede tel onder van Suid-Afrika se mooiste toeristebestemmings wat jy nou, danksy die vervaardiger Hasbro, sommer ook speel-speel met Suid-Afrika se eie Mzansi Monopoly-bordspeletjie kan besoek.
Hasbro, een van die wêreld se gewildste speelgoedvervaardigers, het vroeër vanjaar ʼn lys van gewilde Suid-Afrikaanse toersistebestemmings saamgestel en Monopoly-aanhangers die geleentheid gebied om vir 26 van dié bestemmings vir gebruik op die speelbord te stem.
Die bordspeletjie is verlede week in Johannesburg bekendgestel – kompleet met ʼn lewensgrootte Monopoly-speletjie.
Die 22 toeristebestemmings en vier vervoerpunte wat ingesluit is, is Tafelberg, die V&A Waterfront, Boulders-strand, Chapmanspiek-pad, Kirstenbosch, Robbeneiland, St. Francisbaai, Maboneng, Vilakazistraat in Soweto, Vierdelaan in Parkhurst, Nelson Mandela-plein, die Uniegebou, Gold Reef City, die Wieg van die Mensdom, die Krugerwildtuin, die Oyster Box-hotel, die Drakensberge, die gewilde Florida-pad, Ushaka Marine World, die Durbanse Waterfront, die Addo-olifantpark, Kimberley se groot gat, die Centurion Gautrein-stasie en die Kaapstad-, OR Tambo en Koning Shaka-lughawe.
Mzansi Monopoly is reeds in speelgoedwinkels, asook by Game, Checkers en Makro beskikbaar.
Vir meer inligting, besoek Monopoly Mzansi se Facebook-blad of webwerf.
Bron: Atmosphere
Niks van die Vrystaat? Mooiste moiste Clarens nie eers daar nie! Ai, altyd die stiefkind…En moet nou nie kom sê ek moes stem nie, Hasbro het dit nie eers gehad as bestemming om voor te stem soos ek kan uitmaak. Tyd dat die Vrystaters hul eie speletjie ontwerp ; D