Video: Kyk hoe robothond ʼn riksja sleep

Skermgreep uit die video

ʼn Video van ʼn robot wat ʼn riksja sleep, maak opslae op sosiale media.

Adam Savage, ʼn Amerikaanse televisie-persoonlikheid van Mythbusters-faam, toets in dié video die driewiel-riksja.

Alhoewel die video reeds in Februarie verfilm is, het dit weer opslae gemaak toe dit vandeesweek deur Supriya Sahu, ʼn Indiese staatsamptenaar, op Twitter gedeel is.

In die video klim Adam op die riksja voor die robothond, genaamd Spot, dit in die pad af begin sleep. Spot is ʼn “ratse mobiele robot” wat deur die Amerikaanse ingenieurs- en robotikamaatskappy, Boston Dynamics, vervaardig is.

Volgens hul webwerf kan die robot terrein “met ongekende beweegbaarheid” navigeer.

“Toekomstige riksjas!” het Sahu by die video geskryf. “Kyk na dié wonderlike prototipe van ʼn riksja wat deur ʼn robot gesleep word.”

Adam het die robothond by Boston Dynamics geleen, berig The Verge. Hy het dit gebruik om hom in ʼn tuisgemaakte riksja rond te sleep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.