Die Olimpiese swemmer en vlinderslag-kampioen Michael Phelps (32) het die afgelope naweek in Mosselbaai in die Wes-Kaap se yskoue seewater gespring om “resies te hou” teen ʼn witdoodhaai, ʼn groot-hamerkophaai en ʼn rifhaai.
Phelps het dié uitdaging aanvaar as deel van bewusmaking vir die Discovery-kanaal se “Shark Week”-programme wat op 23 Julie afgeskop het.
Hoewel Phelps die rifhaai met 0,2 sekondes in dié resies gewen het, kon die swemmer, wat al 23 goue medaljes op die Olimpiese Spele verower het, nié daarin slaag om die witdoodhaai en ʼn groot-hamerkophaai te wen nie.
Phelps het met behulp van ʼn sogenaamde monofin daarin geslaag om ʼn afstand van 50 m in die water in 18, 7 sekondes te voltooi.
Die rifhaai het dieselfde afstand in 18, 5 sekondes afgelê, terwyl die groot-hamerkophaai sowat 15, 1 sekondes geneem het om die afstand te voltooi.
Dr. Tristan Guttridge, een van die wetenskaplikes wat aan die projek gewerk het, het gesê om Phelps se kanse te verhoog om die witdoodhaai te wen, moet die afstand wat hulle swem na 100 m verleng word. Guttridge sê ʼn witdoodhaai kan nie vir lang tye aanmekaar teen ʼn vinnige pas swem nie, en die span het daarom gehoop dat Phelps met dié afstand nóg ʼn goue medalje sou losslaan.
Phelps het die 100 m in 38, 1 sekondes voltooi, terwyl die witdoodhaai dit in net twee sekondes vinniger gedoen het.
Die Olimpiese swemmer het egter nie werklik teen haaie meegeding nie – die wetenskaplikes het gebruik gemaak van rekenaargegenereerde beelde (CGI) en spesiale effekte om dit te laat voorkom of mens en dier teen mekaar swem. Die haaie se topspoed is met behulp van ʼn spesiale toestel gemeet deur lokaas voor hulle in die water te trek.
“Voordat ek ingeduik het, het ek geweet hoe koud die water gaan wees. Swemmers swem nie gewoonlik in water met dié lae temperature nie, en dit is ʼn skok vir die liggaam. Ek dink egter dit is indrukwekkend hoe ʼn dier dié koue water kan oorleef en steeds so merkwaardige spoed kan handhaaf,” het hy aan Vox gesê.
Die Amerikaanse swemmer het ʼn topsnelheid van 9, 66 km/h terwyl ʼn witdoodhaai bykans 40 km/h in die water kan bereik.
Phelps is enigste deelnemer in die geskiedenis van die Olimpiese Spele wat al daarin geslaag het om 28 medaljes (waarvan 23 goud is) te verower.
The moment of glory for #TeamShark!!! #PhelpsVsShark #SharkWeek pic.twitter.com/NWYp1CwiRa
— Shark Week (@SharkWeek) July 24, 2017
Rematch? Next time..warmer water. #SW30 @Discovery @SharkWeek
— Michael Phelps (@MichaelPhelps) July 24, 2017
Wooohooo!!! @SharkWeek 2017 with @MichaelPhelps is finally here and it's going to be epic!!! Tune-in tonight at 8pm to watch on @Discovery pic.twitter.com/C2g6Wi0g1Z
— Andy B Casagrande IV (@ABC4EXPLORE) July 23, 2017
Het die haaie geweet hulle is in ‘n resies met die outjie??