‘n Video van die voorval volg onderaan die berig. ʼn Vrou van Florida in Amerika moes Saterdag 20 minute lank vir haar lewe klou nadat sy op ʼn spoorweg-valbrug beland het nadat die brug oor New-rivier in Fort Lauderdale oopgemaak het.
Wanda Keating McGowan (55) het aan ʼn liefdadigheidstaptog vir kanker deelgeneem toe sy oor die brug gestap het. McGowan het vermoedelik oor die brug gestap om foto’s te neem, alhoewel die brug gesluit is vir voetgangers en nie deel is van die roete vir die 5km-stap vir Making Strides Against Breast Cancer nie.
Philip Glazebrook, ʼn ooggetuie, het aan NBC6 gesê ʼn harde alarm gaan af voordat die brug oplig. “Die brug word uit Tallahassee beheer. Daar is niemand hier wat die brug beheer nie,” het Glazebrook gesê. “So sit sy toe vas op die brug en sy word in die lug in opgehys.”
Foto’s van die vrou het regoor sosialemedia-kanale versprei.
Sy het sowat 20 minute lank aan die brug vasgeklou voordat brandbestryders haar met ʼn leer kon red.
Die vrou is ongedeerd, maar die South Florida Sun-Sentinel berig die vrou kan moontlik van betreding aangekla word.
http://youtu.be/mtiH0EkANc0