Video: Vrou verhuur helfte van haar bed te midde van stygende pryse

Argieffoto (Foto: Pexels / Pixabay)

Te midde van stygende huispryse in Toronto, Kanada, laat ʼn vrou se ongewone verhuringsaanbod gebruikers in ongeloof staan.

Anya Ettinger, ʼn eiendomsagent in Toronto, het verlede maand ʼn Facebook Marketplace-advertensie uitgelig waarin iemand skynbaar ʼn halwe bed uitverhuur vir 900 Kanadese dollar (meer as R12 000) per maand.

“Op soek na ʼn sorgelose vrou om die hoofslaapkamer en een Queen-grootte bed te deel,” lui ʼn Facebook-plasing wat intussen verwyder is. “Ek het vroeër die slaapkamer met slegs een Queen-grootte bed gedeel met ʼn kamermaat wat ek op Facebook opgespoor het, en dit het baie goed gewerk.”

Die plasing genaamd ”Shared bedroom in a lake-facing downtown condo” het die helfte van die bed aangebied vir 900 Kanadese dollar.

Ettinger was geskok oor die plasing. “Net toe jy dink die Toronto-mark kan nie erger word nie, toe gebeur hierdie. Dit is belaglik. Om ʼn ruimte in jou bed vir 900 dollar per maand uit te huur? Geen wonder so baie mense haat dit hier nie.”

Sy het aan CTV News Toronto gesê dit wys hoe treurig dit in Kanada is. “Mense is tot só mate verbind om in die stad te bly dat daar ʼn mark vir iets soos dié is.”

Die plasing het wyd op sosiale media versprei.

“Die plasing is heeltemal absurd,” skryf een kyker.

“Dit is ʼn oplossing vir eensaamheid – dis een van die voordele,” skryf nog iemand.

Toronto is die tweede duurste behuisingsmark in Kanada. Volgens die New York Post word ʼn eenslaapkamer-eiendom gemiddeld vir $2 614 (byna R36 000) per maand uitverhuur. Dit noop mense om ongewone roetes te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.