Video: Wiele vir skillie

Pedro met sy splinternuwe agterstel (Foto: Skermgreep uit die video)

Pedro die skilpad is óf ʼn ongeluksvoël óf ʼn waaghals. Toe sy eienaar, Sandra Taylor, hom aanvanklik aangeneem het, was een van sy agterpote vermis – maar niemand het geweet hoe dit gebeur het nie.

Pedro het onlangs vir ʼn paar maande verdwyn en toe hy weer by Sandra se huis opdaag, het hy sy oorblywende agterpoot ook verloor.

Sandra het hom na die Louisiana State University (LSU) se veeartseny-hospitaal in Baton Rouge in die VSA geneem. Die studente en veeartse het koppe bymekaar gesit en met ʼn Lego-motorstelletjie en veilige gom ʼn splinternuwe onderstel vir Pedro gebou.

“Dit was lekker om te sien hoeveel belangstelling hulle getoon het in die skilpad,” het Sandra gesê. “Mense dink soms troeteldiere is net honde en katte. Dis baie vreemd om [by ʼn veearts] in te stap met ʼn skilpad en langs ʼn hond te gaan sit, maar hulle was baie goedhartig en vriendelik.”

Die veeartse het bevestig daar is niks medies fout met Pedro nie. “Die wond het baie mooi genees en hy kon op een of ander manier op sy eie, net met sy voorpote, oor die weg kom,” het Kelly Rockwell, wat met haar internskap besig is by LSU, gesê.

Volgens haar het die eienaars aangedui dat hulle Pedro voorts slegs binnenshuis gaan hou, en daarom het ʼn prostese soos ʼn goeie plan geklink.

Rockwell en nog een van die studente, Sarah Mercer, het met die plan vorendag gekom hoe om die wiele aan Pedro vas te maak. “Al die studente het gehelp. Ons moes ʼn spesiale as maak wat lank genoeg sou wees vir sy lyf. Ons het dit ook só gebou dat mens dit sal kan afhaal as mens Pedro moet skoonmaak.”

Die gom wat hulle gebruik het, is soortgelyk aan die gom wat op perdehoewe gebruik word.

Mercer het gesê sy sal nooit die ervaring vergeet om Lego’s te gebruik om ʼn dier te help nie. “Om veeartsenykunde te studeer is moeilik, maar die oomblik wat ek daar saam met al my medestudente en mentors op die vloer gesit en van vreugde gelag het toe Pedro uiteindelik begin rol het, was ʼn oomblik wat ek nooit sal vergeet nie.”

Sandra het gesê Pedro pas baie maklik aan met sy nuwe prostese. “Hy het dadelik aangepas. Hy kan agteruit stoot, draai, vorentoe en agtertoe beweeg. Hy lyk baie gelukkig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Helene ·

Kry nog goeie mense! Dankie vir ‘n tweede kans vir Skillie!

Dries du Toit ·

Dank die Here vir die feit dat daar nog baie goeie mense is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.