Wêreldrekord: Man draai Ferriswiel met sy hande

Troy voor die Ferriswiel by Luna Park in Sydney, Australië (Foto: Guinness-wêreldrekords)

ʼn Australiër het ʼn Guinness-wêreldrekord ingepalm toe hy ʼn Ferriswiel in ʼn kwessie van 16 minute 55 sekondes met sy hande in die rondte kon draai.

Troy Conley-Magnusson (39) het dit reggekry by Luna Park in Sydney, Australië, om geld in te samel vir die liefdadigheidsorganisasie Little Wings. Dié organisasie ondersteun kinders met ernstige siektes en hul families.

Hy het die rekordpoging aangepak ter herinnering aan die 11-jarige Zac wat verlede jaar oorlede is weens oogkanker.

Volgens Guinness-wêreldrekords (GWR) is die kermiswiel in vrywielmodus geplaas wat beteken dat die hidroulika en remme ontkoppel is. Die wiel is nie deur enigiets aangedryf nie, so Conley moes sy brute krag gebruik het om dit in die rondte te kan draai.

Om in aanmerking te kom vir die rekord, moes die Ferriswiel minstens 24 mandjies gehad het wat elk ʼn minimum van 700 kg weeg. Die totale gewig van die struktuur moes minstens 45 000 kg wees.

“Dit is een van die moeilikste uitdagings – fisies en geestelik – wat ek nog ooit aangepak het,” het Conley aan GWR gesê. “Ek het al uiterste kragtoere in my lewe aangepak, maar hierdie was iets anders. Dit is iets wat nog nooit vantevore gedoen is nie en iets wat 100%-inspanning geverg het van siel en liggaam.”

Dit is Conley se vierde Guinness-wêreldrekord. Hy het ook al die meeste motors met sy tande getrek; die swaarste voertuig oor ʼn afstand van 100 voet (sowat 30 meter) gestoot en ʼn ligte vliegtuig die vinnigste met sy tande oor 20 meter getrek.

Conley se rekordpogings poog om “die voortdurende stryd uit te beeld wat kinders met kritieke beserings en siektes ondergaan”.

Hy is self vertroud met die lyding van siek kinders, omdat hy as vierjarige byna dood is toe hy nierprobleme opgedoen het.

Conley is die stigter van ʼn organisasie genaamd Pull 4 Purpose, ʼn groep sterk mans en vroue wat buitengewone kragtoere vir liefdadigheid aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.