Werkers moet nou 06:00 begin – om krag te bespaar

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Iran het sy staatsdienswerkers se kantoorure in die somer gewysig om elektrisiteitsverbruik te verminder – maar sommige werknemers is ongelukkig met dié vroeë begin.

Die nuwe werksure vir die volgende drie maande, van 06:00 – 13:00 van Junie tot Augustus, het hierdie week begin.

Dit het ten doel om uitdagings te takel wat deur die land in die gesig gestaar word wanneer elektrisiteitsverbruik tydens warm somersdae toeneem.

Talle mense sê egter hulle sukkel om by die nuwe ure aan te pas.

Die parlement het nuwe wetgewing bekragtig wat ingestel is met die nuwe Irannese kalenderjaar in Maart 2023. Hiervolgens hoef die regering nie meer Somertyd (“Daylight Saving Time”) te onderhou nie.

Om reeds om 06:00 by die kantoor te wees, beteken dat sommige werknemers, veral diegene wat van ver af pendel, reeds om 04:00 of 05:00 met hul reis moet begin.

“Dit veroorsaak baie probleme vir ouers wat hul jong kinders laerskool of kleuterskool toe moet neem,” het staatsdienswerker Morteza aan AFP gesê.

“Alhoewel dit nog net ʼn paar dae is dat die nuwe werksure begin het, sukkel gesinne soos ons sʼn om by te bly,” het die 44-jarige pa van drie bygevoeg.

Terwyl die nuwe werksure slegs op staatsdienswerkers van toepassing is, en diegene in die privaat sektor eers om 09:00 begin werk, beteken dit dat daar minder ure beskikbaar is om besigheid te doen, soos die bankwese.

“Banke sluit om 13:00 en dit is my spitstyd by die werk. My transaksies sal dus tot môre of die dag daarna vertraag word,” het Bahman Eshgi, sekretaris-generaal van die Tehran- Kamer van Koophandel, aan die Sazandegi-koerant gesê. “Mens se biologiese klok moet nie ontwrig word deur uitgedinkte maatreëls nie. Dit kan doeltreffendheid verlaag.”

Volgens die nuwe skema werk staatsdienswerkers een uur minder per dag as wat in die wet bepaal word. Die regering versoek hulle egter om van die huis af te werk om dié uur in te pas. Die parlement het dié oplossing egter as “onwettig” verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JvR ·

Vir die klomp sissies wat na 1994 gebore is, of dink voor 1994 was aaklig. In die weermag het jy vier uur opgestaan, vyf uur inspeksie gedoen, ses uur ontbyt gekry. En dan geskuie tot 16:00. En ons het dit oorleef.

Koen ·

Luigat. Ek aan die verkeerde kant van 60 en is 04:00 al aan die werk. Vat so!

Diepoppie ·

Die mense wat vir bakerye in SA werk begin al voor daai tyd te werk en dan is hulle al in die middag by die huis. Dit werk lekker want dan het hulle meer tyd in die middag om ander dinge te doen wanneer plekke nog oop is. En hulle sit ook nie in verkeur vas nie. . die klomp moan oor niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.