Wortelkanaal vir die tier met die seer tand…

Matthew Oxford en sy pasiënt, Fabi (Foto: Paignton-dieretuin)

ʼn Dapper tandarts het onlangs ʼn wortelkanaal uitgevoer op Fabi, ʼn 11-jarige tier van Paignton-dieretuin in Devon, Engeland. Fabi is meer as 2 meter lank en weeg swaarder as 100 kg. ʼn Soematraanse tier het 30 tande, insluitend vier lang slagtande. Die dieretuin het Dinsdag in ʼn verklaring gesê Fabi se slagtande is nodig sodat hy vleis kan byt, skeur en eet. Die tande is ook noodsaaklik vir sy kaakstruktuur.

Matthew Oxford was die dapper tandarts wat die prosedure aangepak het. Matthew behandel diere by verskillende klinieke in Londen en is een van slegs ʼn paar veeartseny-tandartse in die Verenigde Koninkryk.

Tiere se tande word beskadig wanneer hulle speel of aan harde voorwerpe soos bene kou.

Matthew kon die prosedure in ʼn spesiale hok by die dieretuin uitvoer om seker te maak dat Fabi nie vervoer hoef te word nie. Drie veeartse, drie veeartseny-verpleegsters, twee grootkathanteerders en senior personeel het hom bygestaan.

Een van die hanteerders het met ʼn geweer gereedgestaan as iets verkeerd sou loop.

Jo Reynard, die dieretuin se veearts, het die narkose toegedien. “Fabi was uitermatig kalm en het gaan lê vir die inspuiting,” lui die verklaring. “Dit is ʼn getuienis van sy aard en sy verhouding met die personeel van die dieretuin. Hy het dieselfde behandeling ontvang as enige menslike pasiënt.”

Die prosedure het twee en ʼn half ure lank geduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nonnie ·

Dis ‘n pragtige storie met ‘n goeie einde. Fabi is blykbaar ‘n besonderse kalm tier en dit sê alles van sy hanteerders wat hom met respek behandel. Enige wilde dier reageer goed op respek en liefde. Fabi is nie ‘n troetel katjie nie, maar word baie goed behandel deur sy hanteerders. Ons sal graag later verneem hoe dit met hom gaan.

Eddie ·

Een van die hanteerders het bygestaan met n geweer? Sou iets verkeerd gaan sal hy seker die tandarts skiet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.