Hierdie taalbrokkie is net so opgeneem uit die webwerf Beter Afrikaans. “Beter Afrikaans” is ‘n gratis webwerf en die doel daarvan is om op ‘n interaktiewe manier die spel- en skryfreëls van Afrikaans aan gebruikers te bring. As jy geregistreer het op die webwerf, ontvang jy elke weeksdag ‘n e-pos met ‘n hiperskakel waar jy aan ‘n kort speltoets (op jou taalvlak) kan deelneem. Lees meer hier.
Twyfelwoorde (mits vs tensy)
Een van die mooi aspekte van taal is dat ‘n mens verskillende nuanses van betekenis met verskilende woorde kan uitdruk. As jy taal goed wil beheers, moet jy goed kan onderskei tussen woorde wat dikwels verkeerd gebruik word. ‘n Mens moet gewoon sulke woorde leer.
Voegwoorde lyk gewoonlik kort en onbeduidend, maar het ‘n groot invloed op die betekenis van die sin.
Die betekenis van die twee voegwoorde mits en tensy is amper dieselfde, maar daar is tog ’n verskil. Hulle word daarom dikwels nie korrek gebruik nie.
Mits beteken indien, as, ingeval, op voorwaarde dat
Byvoorbeeld: Hy het gesê ek kan gaan, mits ek my suster saamneem.
Anders gestel sou dit gewees het: Hy het gesê ek kan gaan, op voorwaarde dat ek my suster saamneem.
Tensy beteken as nie, dan; indien nie, dan; behalwe as
Byvoorbeeld: Tensy ek my suster saamneem, kan ek nie gaan nie.
Anders gestel sou dit gewees het: As ek my suster nie saamneem nie, dan kan ek nie gaan nie.
Ek en my seun story oor “iewers” en “êrens”