Oktobermaand is nie vir sissies nie! Dit is afsluitings en eksamens, finale dit en dat, afronding voor die konserte en wat nog alles. Oral hoor ek mense kla dat hulle nou nie meer ‘n enkele Saterdag oop het tot die skole sluit nie…
Dis moeilik om nie te voel asof ons in ‘n maalkolk beland het nie. Ons lig ons voete op en laat maar toe dat die stroom ons meesleur. Ons vergeet dat ons kinders ons spanning soos pienkoog by ons aansteek!
Ons is veronderstel om in hierdie dol tyd vir hulle vastigheid te gee, te wys hoe om spanning die hoof te bied en te demonstreer hoe mens jou prioriteite in ‘n ry kan hou selfs al is die stroom vinnig!
Moenie meegesleur word nie! Sit albei jou voete stewig neer en as jy moet, begin selfs stroom-op loop! Moenie vir alles “ja” antwoord nie. Kanselleer die onbelangrike dinge. Vat sommer vanaand jou dagboek en trek strepe deur ure, halwe dae of ‘n hele dag en weier om weer iets daar in te skryf!
Skakel die selfoon net een aand lank af. Om nie te praat van die TV nie! Maak een aand per week ‘n leesaand of speelaand vir julle en die kinders sodat die stroom net ‘n bietjie sy greep op julle kan verloor!
Ek hou daarvan. Dis soms nodig om te hoor.