“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.” – Lees Lukas 10:25-37
Jesus verskil nie met die godsdienstige leiers oor die gesag van die wet nie. Hy verskil wel met hulle valse interpretasie daarvan wat uitmond in hulle beperkte uitlewe daarvan. Die wetgeleerde wou weet wie ‘n naaste van hom is. Jesus verander die vraag na: Vir wie is jy ‘n naaste? Die godsdienstige leiers wou hulle godsdiens suiwer hou. Jesus se korreksie op hulle valse oortuiging is dat die wet onbeperkte liefde en omgee vra.
Ons het ook heelwat valse oortuigings wat ons kortwiek in die beoefening van naasteliefde. Ons hoogmoedigheid is dikwels die gevolg van diepgewortelde rassisme of seksisme (valse oortuigings) wat my laat glo dat my ras of geslag meerderwaardig is. Dit help ‘n mens baie as jy die oorsprong van jou valse oortuigings kan identifiseer. As jy weet waar dit vandaan kom kan jy jouself herprogrammeer sodat jou lewe in ooreenstemming kan kom met God se wil.
Dit is net jammer dat ons vandag die Woord wil buig na ons eie wil en siening. Die Here het duidelik gesê dat niemand een jota of titel in die Woord mag weglaat of verdraai nie. Dit is waarom ons vandag so swaarkry. Die Here sal ons nog al meer straf, omdat ons nie by die Woord hou nie, Hy sal Sy Gesig wegdraai van Sy Volk. Dit staan in die Bybel, lees maar weer hoe Josua moes pleit dat God tog weer Sy volk moes aansien. so sal ons elkeen weer na Hom moet draai om Sy Genade te kan ontvang.