Akademia: Afrikaans, Christelik en vinnig aan die groei

Akademia. (Foto: Verskaf)

Die hoër onderwysinstelling Akademia is sterk op pad om sy doelwit van ʼn breë akademiese aanbod oor alle studievelde, by kampusse in verskeie provinsies, te verwesenlik. Om dit binne ʼn klassieke Christelike raamwerk te doen, is egter wat dié instelling van meeste ander tradisionele universiteite in Suid-Afrika en elders ter wêreld onderskei.

Akademia het verlede week aangekondig planne om ʼn kampus in die Wes-Kaap te vestig is reeds onder weg. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, moet die presiese perseel nog geïdentifiseer word, maar sal die kampus in die driehoek tussen die noordelike voorstede, Stellenbosch en die Paarl wees.

“Ons kry baie goeie samewerking van Kaapse owerhede, beide op munisipale en provinsiale vlak,” sê Visser.

ʼn Perseel vir die bou van ʼn kampus in Pretoria is reeds geïdentifiseer en die droom van ʼn derde kampus in Bloemfontein het ook reeds wortelgeskiet.

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. (Foto: Verskaf)

“Ons begin in die middel van hierdie jaar met die kapitaalwerwingsprojek vir die kampus in Pretoria, en hoop om die kampus teen 2028 op die laatste oop te stel,” sê Visser. Ontwikkelingsregte vir die stuk grond agt kilometer van Solomon Mhlangu-rylaan op die Boschkop-pad in die ooste van Pretoria, is einde verlede jaar bekom. Die kampus, met vier mans- en vier dameskoshuise en fasiliteite vir ʼn wye reeks akademiese kursusse en sportaktiwiteite, sal nagenoeg R2,5 miljard kos.

Akademia bied tans gesamentlik 11 voltydse graadkursusse in die fakulteite ekonomiese en bestuurswetenskappe, opvoedkunde, natuurwetenskappe, geesteswetenskappe en regsgeleerdheid. Nog ʼn klomp diploma -en sertifikaatkwalifikasies word na-ure aangebied. As alles volgens plan verloop sal die instelling teen 2028 ook kursusse in gesondheidswetenskappe, ingenieurswese en teologie aanbied.

“Ek dink die grootste uitdaging wat Akademia in die volgende tien jaar sal ervaar, is om alles wat ons wil doen reg te kry sonder enige befondsing van die staat.”

Dat dit nodig is, is egter onbetwisbaar. “Die Afrikaanse gemeenskap het homself destyds (ná die Anglo-Boereoorlog) deur middel van die oprig van opvoedkundige instellings gered. Ons kan dit weer doen.”

ʼn Universiteit met ʼn unieke bestaansrede    

Luidens Akademia se bestaansrede is die instelling ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling
vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe. Dit, verduidelik Visser, vind veral neerslag in die manier waarop die natuurwetenskappe benader word.

“Dit het veral te doen met hoe ons die skepping, met God as skepper, bestudeer. Akademia wil graag die wonder van die skepping – en die wetenskap – vir studente oopbreek, sonder om studente daarvan te probeer oortuig om in God te glo.”

Laasgenoemde, sê hy, is die werk van die kerk. “Die universiteit, in sy tradisionele rol, is bloot ondersteunend tot die kerk.” Enigiemand is welkom by Akademia, of jy ʼn Christen is of nie, “maar dit is belangrik om ons waardestelsel vooraf te definieer, sodat as jy hier studeer, jy weet wat ons oortuigings is”.

Akademia het onlangs ʼn rekordgetal van 464 kwalifikasies, waarvan 84 nagraadse kwalifikasies is, toegeken. (Foto: Akademia)

Tog, sê Visser, is Akademia meer as bereid om in gesprek te tree oor wat presies Christenskap is en hoe die wetenskap, binne die grense van Christenskap, benader behoort te word.

Visser verduidelik Akademia se bestaansrede is geskoei op die klasieke rol van universiteite wat hul fondasie in die Westerse tradisie het. Hiervolgens geskied die onderrig en ontwikkeling van studente op ʼn Christelike basis, ter wille van ʼn bepaalde gemeenskap.

“Dit gaan dus nie hier hoofsaaklik daaroor om studente in staat te stel om die leer na sukses te klim of die oplei van super individue nie,” sê Visser. Instellings met ʼn klassieke bestaansrede het eerder ten doel om ʼn gemeenskap se waardes en deugde te gebruik om studente toe te rus, ten einde die voortbestaan van die kultuurgemeenskap te verseker. “Dit gaan hoofsaaklik daaroor om te kyk na die lesse van die verlede, te vat daaruit wat goed is, dit te verbeter en aan die volgende geslag oor te dra.”

Visser sê die meeste universiteite vandag het weggebreek van die Christelike tradisie en is nou eerder sekulêre of kommersiële instellings. “Die gevolg is dat die wetenskap sonder samehang bestudeer word. Hieruit ontstaan gefragmenteerde studievelde, waar die aanbieder daarvan eintlik maar kan opdis wat hy wil.”

Hy meen die kultuur van “wokeness” wat tans by meeste universiteite ook in Suid-Afrika aanvaar word, belemmer die soeke na waarheid, wat die oogmerk van enige hoëronderwysinstelling behoort te wees.

“Dit het ʼn vernietigende invloed op universiteite. Dit versmoor die nodige akademiese gesprek en sal daartoe lei dat instellings wat dié denkrigting nastreef, ʼn plek van gefragmenteerdheid word waar ʼn bepaalde idee op studente afgedwing word.”

Hy sê universiteite is nie meer plekke waar vandag se studente meelewend, onbevange en vrymoedig kan studeer nie. Dit is dan ook een die gapings wat Akademia, met sy unieke bestaansrede, wil vul. En dan, natuurlik, in Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.