Amanda Strydom, diensbaar, dankbaar in goue jare

Amanda Strydom. (Foto: verskaf)

In haar laat sestigerjare loop Amanda Strydom ʼn pad sonder ego, die lig waarin sy haar gehore laat dans, skyn deur haar getroue diensbaarheid aan haar kuns en talent, en daarvoor, is sy dankbaar.

Amanda sal eersdaags in die kabaret, Amber/Ombré, by Momentum Beleggings Aardklop te sien wees. Sy beskryf dit as ʼn teaterstuk wat wêreldse uitdagings verken;  ʼn musikale reis waarin sy hartseer en vertroosting vind.

“Amber is ʼn edelsteen, dit het ʼn geel-bruinerige kleur. Wanneer die lig reg daarop val, verander dit in ʼn goud en ʼn diep oranje. Dit pas so mooi by die inhoud van die kabaret,” het Amanda aan Maroela Media vertel.

“Dit gaan oor die toestand waarin onsself bevind in dié land, maar ook oor die planeet en die sinneloosheid van oorlog. Dit gaan oor liefde, want ek kan nie die gehoor net in donker dompel nie. Daar is troos, soos ʼn pleister vir die nerwe in die vertoning. Dan eindig ons met hoop, en hopelik seën.”

Dié kabaret plaas die seer, uitdagings en hoë bergpieke wat Suid-Afrikaners daagliks moet klim, in die kollig. Dit is ʼn gesamentlike ervaring wat elke gehoorlid op ʼn diep wyse verstaan.

“Al die donker, seer en openbare vernedering wat ek ervaar het toe ek opgestaan het teen Apartheid in die 1980’s, het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek is ook nie blind vir wat in hierdie land aangaan nie, ek sal steeds oor kwessies tekere gaan, nes ek in Amber/Ombré doen,” sê sy.

“Ek maak dit in hierdie vertoning duidelik wat ons regering besig is om aan ons te doen. Dit is die onderdruktes waarvoor ek destyds opgestaan het, maar vandag lyk dit asof daar nóg meer onderdruktes is. Ons sit sonder krag, die krane is droog op plekke, maar ons gaan aan, want dit is wie ons is.”

Amanda erken dat dit een van die moeilikste musikale kabarette is wat sy nog aangepak het.

“My musikante het my amper in die proses geskei,” skerts sy.

(Foto: Amanda Strydom/Facebook)

In dié stuk kan haar lirieke en poësie gehoor word, maar ook dié van haar ontslape vriend, Ralph Rabie, beter bekend as Johannes Kerkorrel, en haar mentor, Hennie Aucamp.

Dié woorde wat deur haar eie lewe vloei, is as verbindingsteks in Amber/Ombré gebruik.

“Ek sing Afrikaans, natuurlik, die taal van my hart in die stuk. Ek sing ook in Engels, Nederlands en Spaans. Aan die einde van die vertoning, is dit asof die gehoor ʼn gesamentlike verlossing voel.”

Alhoewel dié kabaret ʼn besonderse musikale uitdaging vir haar inhou, is dit juis uitdagings wat Amanda as vernuwing beskou.

Sy geniet dit om elke jaar met nuwe verhoogstukke vorendag te kom, om nuwe toneelspelberge te klim en musikale waters aan te durf. Sonder dié uitdagings, sou haar lewe bra vervelig gewees het, erken sy.

“As jy nie as kunstenaar groei en ryper word nie, sit jy vas. Daar is kunstenaars wat keer op keer dieselfde ding doen, maar ek sal dit nie kan doen nie. Dit sal my verveel – en as ek myself verveel, dan verveel ek my gehoor,” glo Amanda.

Sy het deur haar loopbaan, wat oor vier dekades strek, geweet dat haar kuns en haar veelsydigheid nie maklik geskei sou kon word nie. Hetsy dit toneelspel, sang of skryfwerk was, sy het geweet dat dié drie kunsvorme deurentyd ʼn alomteenwoordige en gelyke rol in haar lewe en loopbaan vertolk.

Dit juis waarom sy nooit werklik haarself in ʼn sepiewêreld kon tuismaak nie, sê sy. En dit is ook waarom kabarette met aanloklikheid vir haar gewink het – “daarin kan jy al drie doen.”

In die vroeë 1990’s, nadat streeksrade, soos die Kaaplandse Raad vir Uitvoerende Kunste (Kruik) en die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (Truk), afgeskaf is, moes kunstenaars na ander heenkome soek. Daar is destyds vir kunstenaars gesorg, onthou Amanda, met kontrakte, salarisse, mediese- en pensioenfondse.

Toe val dit weg, en kunstenaars moes elders standvastigheid vind. In dié wispelturige en onsekere tydperk is kunstefeeste geskep. “ʼn Wonderlike geskenk aan kunstenaars,” vertel Amanda nostalgies.

“Kunstefeeste het ons bedryf gered. Feeste dien kuns in al sy vorms. Dit is waar skilders, dansers, sangers, skrywers, digters en akteurs tuis is. Wanneer jy die estetiese aar van ʼn land afsny, pleeg jy selfmoord.

“Kuns het die vermoë om mense op dieselfde wyse te verbind as wat sport doen.”

Amanda erken dat die kunste ʼn reuseknou deur die Covid-19-pandemie gekry het. Teatergangers is bang vir aandvertonings, terwyl middagvertonings dikwels volbespreek is. “Net nog ʼn uitvloeisel van die pandemie waaraan mense gewoond geraak het,” sê sy.

Tog het dit haar ook laat besef dat daaglikse dankbaarheid van onskatbare waarde is, dat sy leeg moet word van ego en dat dit wat sy op die verhoog doen, tot die diens van haar gehore is.

“Hoe wonderlik is dit nie om so te kan groei nie?”

Sy kyk met verwondering na haar tydgenote in die vermaakbedryf, maar ook na jonger mense wat hul vermaakpad probeer uitkerf. Vir hulle gun sy wêrelde se inspirasie.

(Foto: Amanda Strydom/Facebook)

“Ek wil hê dat jongmense moet besef dat kitsroem maklik is, en dat hulle ten alle tye moet poog om uniek te wees. Dit help nie om ander na te aap nie, jy moet sê wat jy wil sê. Dit is nie ʼn maklike pad nie, maar dit is ʼn bevredigende pad, want jy het nie jou siel verkoop nie.”

Vandag, op 67, is Amanda dankbaar vir haar talent, diensbaar teenoor haar kuns, en minder, waar sy in die verlede meer sou probeer wees. Sy leef nederig saam met haar man, en erken dat wanneer sy nie op die verhoog is nie, is hulle eintlik maar kluisenaars wat die stille vrede van die lewe geniet.

Wanneer sy na haar 44 jaar in die bedryf kyk, raak sy nostalgies. “Dit is dan die tapisserie van die lewe,” sê sy.

“Ek het soveel lewenservaring opgedoen, veral toe ek destyds in psigiatriese inrigtings opgeneem is weens my bipolêre depressie. Ek het soveel pyn gesien, maar ook soveel wonderwerke. Ek het gesien hoe mense uit die donker opstaan en weer aangaan met hul lewens.”

  • Vir meer inligting oor Momentum Beleggings Aardklop, Amber/Ombré en om kaartjies vir vertonings aan te skaf, besoek hierdie webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.