Die ANC in die Oos-Kaap het Pateka Qaba, die beleërde burgemeester van die Amahtlathi-munisipaliteit, in die pad gesteek te midde van die gewelddadige betogings in Stutterheim.
Die party het gehoor gegee aan die eise van die betogende gemeenskap en is in die proses om die burgemeesterskomitee van dié sukkelende munisipaliteit te ontbind.
Betogings in die dorp het middel Oktober begin toe woedende, werklose jeugdiges die strate ingevaar het en die Amahtlathi-munisipaliteit beskuldig het van nepotisme en dat beamptes poste vir geld en seks verkoop. Hulle het ook aangevoer Qaba is nie ʼn inwoner van Amahtlathi nie en stel haar vriende aan wat van dieselfde gebied as sy af kom.
Betogers het onder meer munisipale geboue en ʼn kliniek aan die brand gesteek. Voertuie op die N6 is met klippe bestook en vragmotors is uitgebrand. Volgens die polisie is meer as 30 mense sedertdien in hegtenis geneem.
Lulama Ngcukayitobi, provinsiale sekretaris van die ANC in die Oos-Kaap, het Woensdag gesê die party het ná gesprekke met die gemeenskap besluit om die burgemeester van haar amp te onthef.
“Ons het met die mense gepraat en nadat hulle hul ontevredenheid met die burgemeester en die uitvoerende gesag uitgespreek het, is die besluit geneem om die uitvoerende gesag te herstruktureer. Ons is steeds in gesprek oor die kandidate wat by die uitgaande beamptes sal oorneem,” het Ngcukayitobi gesê.
Die ANC het egter die geweld en beskadiging van infrastruktuur veroordeel en dit toegeskryf aan “kriminele elemente wat die betogings infiltreer het”. Ngcukayitobi het gesê van die inhegtenisnemings is bereik met behulp van betogers wat probeer om die kriminele elemente uit te roei.
Fikile Xasa, Oos-Kaapse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê die nasionale tesourie sal ʼn forensiese ondersoek doen na die bewerings wat deur die betogers aan die lig gebring is.
Lyk my dis waar dat die ANC eers reageer op hulle ondersteuners se behoeftes wanneer dorpe afgebrand word.