Fanie Viljoen: ‘Dit gaan mense soos ʼn vuishou in die donker tref’

Fanie Viljoen (Foto: Christa Steyn/Maroela Media)

Fanie Viljoen se jongste boek, Offers vir die vlieë, is onlangs as die wenner van Lapa se jeugromankompetisie aangewys. Viljoen is al verskeie kere met die Sanlamprys, die M.E.R.-prys en talle ATKV-Woordveertjies bekroon.

“As jy ʼn toekenning ontvang, moedig dit jou as skrywer aan,” meen Viljoen. Viljoen brei uit oor die alleenheid van ʼn skrywer se werk en erken dat toekennings ure se skryf en eensaamheid die moeite werd maak.

Dit is veral die lesers se terugvoer wat vir hom spesiaal is.

“Die lekkerste is om briewe en boodskappe van jong lesers af te kry. Ek het juis die week op Instagram ʼn boodskap van iemand ontvang wat sê dat hy die eerste keer ʼn boek van meer as sewentig bladsye gelees het.”

Hoewel Viljoen al talle toekennings ontvang het, bly dit ʼn konstante uitdaging om voortdurend met nuwe en relevante stories vorendag te kom.

“’n Mens moet veral pitkos vir die jeug gee,” verduidelik hy. “Ek hou daarvan om die grense so ʼn bietjie uit te daag wanneer ek vir dié groep lesers skryf.”

Viljoen is opgewonde oor sy jongste boek wat volgens hom ʼn eerste in Afrikaans is.

“Ek glo nie daar is al ʼn weermagverhaal vir jongmense in Afrikaans geskryf nie. Ek sien uit om te hoor wat jong mense, veral seuns, daarvan dink,” vertel Viljoen.

Luister hier na voorlesing uit die manuskrip van Offers vir die vlieë:

Die boek word later vanjaar deur Lapa Uitgewers uitgegee.

“Tot dan sal ek nog eers moet skaaf en skuur aan die storie. Ons (ek en die uitgewers) moet nog op ʼn voorblad besluit en ek moet deur die paneel se verslae werk.”

  • Fanie Viljoen het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak en met Christa Steyn gesels oor sukses, skrywersblok en sy nuutste boek, Offers vir die vlieë. Luister na die onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.