Garies-brand was dalk doelbewus

Garies se brandweerwa het glo op bakstene gestaan terwyl die brand by die skool gewoed het. (Foto: Verskaf)

Die ondersoek na ʼn brand wat groot dele van Hoërskool Garies in puin gelaat het, is afgehandel, maar daar is steeds geen antwoorde oor wat presies daartoe aanleiding gegee het nie.

Die Noord-Kaapse departement van onderwys het by navraag gesê volgens die polisie is hul ondersoek afgehandel en word daar nou op die formele verslag gewag.

Daar is ook nog geen aanduiding van wanneer die skool herbou gaan word nie. Die skool se administrasiekantoor, ablusiegeriewe en altesaam 11 klaskamers het in die slag gebly, terwyl verskeie meubelstukke en onderrig- en ondersteuningsmateriaal ook verwoes is.

Die VF Plus het Dinsdag gesê die vuur wat op 17 September by die hoërskool uitgebreek het, is noodgedwonge gelaat om homself uit te woed omdat die plaaslike munisipaliteit se brandbestrydingsvoertuie buite werking is.

Boonop dui ʼn voorlopige ondersoek glo op brandstigting nadat die skool op drie plekke gelyktydig begin brand het.

“In hierdie geval besit die munisipaliteit twee brandbestrydingsvoertuie. Die een is ʼn sleepwa met ʼn drukpomp en watertenk wat onder ʼn peperboom staan en waarvan die diensbaarheid jare gelede laas getoets en die wiele na ander voertuie ‘herontplooi’ is. Die ander een is ʼn regte rooi brandweerwa wat in ʼn munisipale werf op stene staan,” sê Coenie Coetzee, die VF Plus se streekskoördineerder vir die Weskus en Namakwaland.

“Hardnekkige gerugte” dat toerusting vir ʼn brandweerwa se diensbaarheid by ʼn skrootwerf verkoop is, moet ook ondersoek word, sê Coetzee.

Die skool se administrasiekantoor, ablusiegeriewe en altesaam 11 klaskamers het in die slag gebly, terwyl verskeie meubelstukke en onderrig- en ondersteuningsmateriaal ook verwoes is. (Foto: Kamiesberg-munisipaliteit)

Maroela Media het ʼn navraag aan die Kamiesberg-munisipaliteit se munisipale bestuurder gerig en onder meer gevra hoeveel van die plaaslike owerheid se brandbestrydingstoerusting tans beskikbaar is. Kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Coetzee sê inwoners is diep ongelukkig oor die voorval, veral omdat min nuwe geboue opgerig word en die streek se sierlike argitektuur uit ʼn vorige era gekoester word.

“Intussen het die burgemeester, me. Susarah Nero, die afwesigheid van optrede en gepaardgaande skade aan die gebrek aan fondse toegeskryf. Dit laat vrae oor finansiële bestuur ontstaan as brandbestryding nie voldoende voorkeur geniet nie,” sê Coetzee.

Hy waarsku ook dat brande soos dié wat Hoërskool Garies bykans verwoes het, weer verwag kan word.

“Dit moet egter nie as ʼn natuurramp, of selfs die tragiese gevolg van geldtekorte gereken word nie, maar as die bykans kriminele gevolg van wanbestuur op plaaslike regeringsvlak.”

Coetzee sê die VF Plus steun plaaslike optrede wat daarop gemik is om die burgerlike gemeenskap vir brandbestryding en -voorkoming te mobiliseer.

“So lank as wat die ANC regeer, moet gemeenskappe self vir dié soort funksies verantwoordelikheid neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Soos die gebou wat afgebrand het is ANC besig met stadige ekonomiese verlamming en verwoesting van SA en volg amper die Engelse se verskroeide aarde beleid van 1902

Windhond ·

Selfs n dier maak nie vuil waar hy slaap nie – ongelooflik?

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Moet net asb. in hemelsnaam nie die skool herbou nie, ons ou volkie moet leer as jy brand en breek, moet jy maar suffer en sonder jou voorregte klaarkom. Net so ñ heads up, julle wat bly brand en breek, sal altyd arm bly indien julle gewonder het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.