Koorsang in Oos-Kaap gedy

Die koordirigent Bouwer van Rooyen. (Foto verskaf)

Deur Susan Maré

Nadat koorsang in Suid-Afrika deur Covid-maatreëls ʼn kwaai knou toegedien is, floreer dit nou weer op alle vlakke, danksy passievolle en toegewyde musici in die land om koorsang-geleenthede te skep. Veral skoolkore gedy en baie skole het benewens hul kore ook bykomende groepe soos ʼn kamerkoor, a capella-groep en revue-groep. Die groot aantal kore wat aan kunswedstryde, koorkompetisies, koorfeeste en geleenthede soos ATKV Applous deelneem getuig hiervan. Ook is provinsiale streekkore, universiteitskore en talle gemeenskapskore oral goed gevestig en weer voluit aan die gang.

ʼn Splinternuwe inisiatief in die Oos-Kaap om ook ouer koorlede nog geleentheid te bied om koorsang te beoefen, is ʼn eerste senior-burger-koorfees in Jeffreysbaai op Saterdag 17 September 2022. Senior burgers van oor die Oos-Kaap, met ʼn liefde vir koorsang, gaan deel wees van hierdie geleentheid onder leiding van Bouwer van Rooyen wie se passie dit lewenslank was om veral koorsang se vlam hoog te laat brand. Hy was dirigent van verskeie kore in sy musiekloopbaan.

Bouwer se bydrae tot Suid-Afrika se musiekkultuur is enorm en sy curriculum vitae spreek van plaaslike, nasionale en internasionale kooroptredes en -reise. Hy is nie net stigter van verskeie gemeenskapskore nie, maar ook plantkundige, onderwyskundige, orrelis en was vir 33 jaar betrokke by die bestuurstrukture van die Suider-Afrikaanse Kerkorreliste-vereniging (SAKOV) van wie hy erelidmaatskap ontvang het. ʼn Besonderse bydrae was die Afrikaanse teks wat hy vir verskeie koorwerke voorsien het, onder meer “Plea for Africa” wat hier op YouTube as “Pleidooi vir Afrika” te hoor is.

Bouwer, wat hom na aftrede van Bloemfontein in Port Elizabeth gaan vestig het, het hier in 2016 die Cantando@Algoa-gemeenskapskoor gestig. Die koor was in 2019 die ankerkoor van die Passiespel in Lady Grey. In 2020 sou dié koor tesame met die ander twee Cantando-kore wat hy gestig het (Cantando@Delta in Vereeniging en Cantando@Bloem in Bloemfontein) aan die 23ste internasionale koorfees in Alta Pusteria in Noord-Italië deelgeneem het asook die ankerkoor gevorm het vir die 200ste bestaansvieringe van die Bybelgenootskap in PE se Veremarksentrum. As gevolg van die Covid-19-pandemie het hierdie planne skipbreuk gelei en was die koor vir bykans drie jaar in reses.

Cantando@Bloem onder leiding van Bouwer van Rooyen by opelugkonsert by ‘n ski-oord in die Dolomitiese Alpe tydens die Val Pusteria Koorfees in 2015. (Foto verskaf)

Saam met Annatjie Smit van Jeffreysbaai en ander passievolle komiteelede is daar begin om in 2022 senior-burger-koorlede bymekaar te maak. Ongeveer 160 individue uit Graaff-Reinet, Oos-Londen, Bedford, Adelaide, Boesmansriviermond, Despatch, Jeffreysbaai en Port Elizabeth gaan met die Jubelkoor van Annatjie Smit saamspan vir die koorfees in September. Die program bestaan uit samesang van hoofsaaklik Afrikaanse liedere uit die FAK-sangbundels deur die massakoor, soliste en gehoor, afgewissel met instrumentale items, byvoorbeeld ʼn besondere saag-duet.

Volgens Bouwer hou koorsang, behalwe vir die genot van die musikale belewing, verskeie ander voordele in. Dit lei tot gefokusde aandag, verbeterde stemming, sosiale ondersteuning, kognitiewe stimulasie, dieper asemhaling, gereelde verbintenis tot ʼn groep se belange wat voorkeur bo eie belange kry. Dit dra dus by tot positiewe persoonlike kenmerke soos optimisme, in ag neem van andere en die sluit van goeie verhoudinge met uiteenlopende persoonlikhede. Hy vind dit opvallend dat koorsangers meesal ook merkwaardig sterk betrokke op verskeie ander vlakke in hul gemeenskappe is.

Met hierdie inisiatief word gepoog om vir meer senior persone steeds ʼn geleentheid te skep om die genot van koorsang te beleef en aan bogenoemde voordele blootgestel te word. Daar word beoog om hierdie Oos-Kaapse senior-burger-koorfees ʼn jaarlikse instelling te maak.

  • Lesers van Maroela Media wat in die Oos-Kaap woon word vriendelik uitgenooi om die eerste Oos-Kaapse senior-burger-koorfees op Saterdag 17 September2022 om 11:00 in die NG Kerk Wavecrest in Jeffreysbaai by te woon. Skakel 082 200 9415 vir enige navrae.

“Though everything else may appear shallow and repulsive, even the smallest task in music or choir singing is so absorbing, and carries us so far away from town, country, earth, and all worldly things, that it is truly a blessed gift of God.” − Felix Mendelssohn

 

Die foto by die see is in 2011 geneem toe Cantando@Bloem tydens deelname aan Last night at the Proms in PE die oggend met sonsopkoms “Dit is ‘n nuwe dag” op die pier gesing het. (Foto verskaf)

“Pleidooi vir Afrika”

(Afrikaanse teks deur Bouwer van Rooyen, 1999)

 

Laat ons bid vir Afrika,

land van helder son.

Daar is soveel wat nog wag

om verlos te word.

Vele lewens reeds verby

en nog soveel meer

roep om redding tot U, Heer,

U is lewend God.

 

Refrein:

Laat dit wyd bekend word,

elke tong en taal pleit saam:

God seën Afrika,

en sy kinders een vir een.

 

Kom ons bid vir Afrika:

Here wil U gee

dat God se liefde heers

oor ons wye land.

En wanneer ons saam aanbid

voor die troon van God,

bid vir vrede in ons land

en dat God regeer.

 

Refrein:

Laat dit wyd bekend word,

elke tong en taal pleit saam:

God seën Afrika,

en sy kinders een vir een.

Cantando@Algoa onder leiding van koordirigent Bouwer van Rooyen. (Foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.