Kuns bied uitkoms vir Kruiper-Boesmans

Makaai Kruiper, Andries Malgas, Ricky Kruiper, Hermanus Tieties, John Kruiper, Dawid Kruiper, Lydia Kruiper, Koos Kruiper, Dawid Kruiper jr., Celeste Swartz, John Festus, Samuel Witbooi en Franco Aries is baie trots op die gemsbokfiguur wat voor hul kunssentrum pryk. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Kruiper-Boesmans is in ʼn stryd met die buitewêreld gewikkel en word dikwels uitgebuit, terwyl hulle veg vir oorlewing. Lees in die vorige uitgawe hoe weldoeners op eiers moet loop om hul vertroue te wen.

Lydia Kruiper, die matriarg van die Kruiper-gemeenskap, sê sy besef dat sy nie meer na die verlede kan hunker nie, maar na die toekoms moet kyk en ander planne moet maak om te oorleef.

Sy het die daad by die woord gevoeg en begin leer om naaldwerk te doen. Sy het ook masseringstegnieke baasgeraak en wil hierdie diens aan toeriste bied. Dan moet die jonger meisies ook geleer word om dit te doen.

Daarbenewens is daar nie ʼn tekort aan tekenkunstenaars in die Kruiper-gemeenskap nie. Sy noem name soos Makaai, Koos, Ricky, Klein John, Dawid, Witbooi en Sanna wat hulself onderskei het.

Kunssentrum skep hoop

Ná die Boesmans uit ander dele van die land, waar hulle op die rotse kon teken, weggedryf is, het hulle tussen die Kalahari se duine niks soortgelyks gehad om hulle kuns uit te leef nie en het toe geleer om gebrandskilderde tekeninge op klein beentjies aan te bring om hulle tradisie te bewaar, wat hulle aan toeriste verkoop.

Dié oorgang was nie maklik nie en vir hierdie oermense om dit te omarm gaan steeds gepaard met aanstoot.

“Toe ek hier aangekom het moes ek hulle leer om hul kunsitems, leefstyl en tradisies soos hul danse, soos enige kunstenaar aan die wêreld te vertoon en te verkoop, want dit is wat hulle het om te bied en as hulle dit verloor is daar niks,” sê Fransi Phillips, die bekende skrywer wat in 2016 na hulle begin uitreik het.

“Maar dit is nie vir hulle natuurlik nie,” benadruk sy.

“Dawid Kruiper het gesê as hy uitgaan in die veld om te gaan jag kom hy terug met ʼn blikkie vis…”

Toe die Covid-19-inperkings ingestel is, het die toeriste opgedroog en kon hulle niks verkoop nie, met die gevolg dat hul inkomste uiters beperk was.

“Ek het toe vir hulle gesê om tekeninge in die sand te maak, dit met ʼn selfoon af te neem en vir my te stuur,” sê Phillips.

Daarmee saam het sy ʼn skare-finansieringsveldtog van stapel gestuur, die tekeninge op papier uitgedruk en daarmee ʼn kunsuitstalling in Pretoria gehou.

 

Fransi Phillips het vroeg in 2022 ʼn Kruiper-kunsuitstalling in Pretoria gehou om vir hulle geld in te samel. (Foto: Nina Phillips)

 

Kruiper-kunswerke (Foto: Nina Phillips)

 

Kruiper-kunswerke. (Foto: Nina Phillips)

 

ʼn Persoon met die naam Eberhard Knapp wat die Burkhardt-stigting in Duitsland verteenwoordig het van die uitstalling te hore gekom en vir Phillips ontmoet. Hy was so begeester dat hy geld aan haar geskenk het om met haar oorleg ʼn kunssentrum op die Kruipers se grond te bou wat hulle self moet bedryf. Die bedoeling daarmee is om hulle kuns en kultuur te bevorder deur toeriste te lok, maar ook om die kunswerke sonder ʼn middelman, regstreeks aan besoekers te verkoop.

Ricky Kruiper is die projekbestuurder van die kunssentrum en moet ook die gemeenskap se administrasie behartig. Hy is die kleinseun van Dawid Kruiper en het ʼn leierskapkursus in projekbestuur in Limpopo gedoen.

Hy is ook ʼn tradisionele geneesheer en sê sy metode bestaan uit twee dele. Hy gebruik natuurlike plantemedisyne wat hy met die spirituele saamvoeg om sy pasiënte se volle welstand te verseker en kan ongesteldhede en siektes soos hoë bloeddruk, verkoue, suikersiekte en borsprobleme behandel.

Ongelukkig groei die meeste van die plante wat hy nodig het om medisyne te maak vandag slegs in die Kgalagadi Oorgrenspark daar naby, want die vee op die Kruipers se grond vreet dit op. Tans is sy medisyne karig en om dit in die park te gaan haal moet hy toestemming kry. “Die park het protokolle en administreer hoeveel plante ons mag kry,” sê hy.

Hy is ook getaak om die kinders veldkuns te leer en probeer om hulle so twee, drie keer per jaar park toe te neem waar hulle onder natuurlike omstandighede kan leer jag en spoorsny, want op hul eie grond is dit onmoontlik. “Ons vee bied ʼn vorm van oorlewing maar behalwe dat hulle die medisyneplante opvreet, kan ons nie waar hulle loop op die wilde diere se bewegings spoorsny nie.”

 

Die kunssentrum is versier met tipiese Boesmankunsfigure wat deur die kunstenaar, Guy du Toit uit staal gesny is. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Ongelukkig verg dié uitstappies ook ʼn administratiewe proses en die vervoer na die park se kantore skep ʼn probleem. Hulle het ook baie meer tyd nodig as wat tans moontlik is.

“My verlangste is om na skoolure en oor naweke vir die kinders so twee tot drie ure per dag spore te wys, sodat hulle die kuns heeltemal verloor nie,” sê Ricky.

Tans word die kinders af en toe na die plaas Erin toe gevat waar hulle die plaaslike diere se spore kan sien, maar volgens hom moet hulle ook aan leeusspore en ander roofdiere blootgestel word.

Verskeie doelwitte

Ricky is ook baie geesdriftig oor die kunssentrum en sê hy geniet kuns waarmee die Kruipers ʼn boodskap kan oordra.

Sy span werk fluks om dit ʼn werklikheid te maak. Hulle het almal ingespring en die eerste fase onlangs voltooi. Dit is ʼn afdak waaronder hulle hul skilderye en die gebruiksitems wat hulle self vervaardig, kan uitstal.

Hy sê sy droom vir die sentrum is om al die uitstallers wat verspreid langs die pad staan te verenig, sodat hulle op ʼn meer georganiseerde manier hul kuns en ander items kan verkoop.

Die kunssentrum gaan stuk-stuk verder ontwikkel en uitgebrei word. Phillips sê ʼn uitstaltafel is in die onmiddellike pyplyn en dan moet hulle bankies maak waarop die toeriste kan sit om na die danse te kyk.

“Hulle het ook nie ʼn werksplek nie en moet ʼn werkstafel kry, want hulle sit sommer die papiere waarop hulle skilder in die sand en dan word dit redelik vuil,” sê sy.

 

Die span werkers het fluks gewerk om die kunssentrum se afdak te voltooi. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

ʼn Volgende fase van die kunssentrum is om ʼn herwinningsprojek van stapel te stuur waarmee afvalmateriaal met kuns gekombineer word. “Hulle versier reeds items op ʼn meesterlike manier en gaan onder andere deursigtige plastiekbottels gebruik om dit byvoorbeeld met die verskillende kleure van die Kalahari se sand te vul.”

Materiaal waarop die Boesmans se skilderwerke voortgebring moet word om dit verkoopbaar te maak skep egter ʼn groot probleem. Dit is duur en hulle moet 190 km na Upington toe ry om dit in die hande te kry.

“Ek wil hulle leer om met houtskool te teken, omdat hulle dit self kan maak en dus verniet en maklik verkrygbaar is, maar dan moet hulle papier kry wat na die tyd vernis moet word sodat die houtskool nie smeer nie.

“Vetkat Regopstaan Kruiper, ʼn baie bekende Boesman moes op lyntjiespapier wat uit skoolboeke geskeur is skilder.”

Lydia sê die kunssentrum bied vir hulle ʼn kans om aan die werk te spring en nie langer stil te sit nie. Sy glo ook as dit eers aan die gang is sal daar nog meer geleenthede te voorskyn kom.

Onseker toekoms

Heelwat Boesmanstamme het deurlopend versplinter en by die bruinmense se gemeenskappe aangesluit en is in die Westerse kultuur opgeneem.

Vandag is die Boesmans wat so tradisioneel as moontlik wil leef ver uit mekaar gedryf en buite Suid-Afrika woon hulle ook in Botswana en Namibië. “Daar is grense wat ons keer om bymekaar uit te kom,” sê Lydia.

 

Evelyn Kruiper en Donovan van Rooy maak kraletjies deur gaatjies in volstruiseierstukkies te boor, agter hul stalletjie by Witdraai se ingang. Tussen hulle hurk Oupot Stanley Jooste Kruiper, Evelyn se man. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die harde werklikheid is dat hierdie mense en hul kultuur op ʼn moderne manier bemark moet word, sodat hierdie besondere erfenis bewaar kan word. Phillips sê sy kan nie permanent in die Kalahari bly nie en sy benodig ʼn tussenpersoon wat die Boesmans sal verstaan wat by hulle sal aanpas om op hulle terme die regte bemarkingsprosesse te volg. “Dit sal ʼn uiterse uitdaging wees.”

Die Kruipers is wel sterk in hul tradisies gegrond, maar soos hulle kinders skool toe gaan sal hulle ook ʼn kans gegun word om formele werk te doen en loopbane begin volg. Dit sal heel waarskynlik beteken dat hulle as ʼn eiesoortige kultuurgroep verlore gaan en net geïnkorporeer word in groter gemeenskappe.

Besoek Phillips se Facebook-blad om ʼn nadere blik op die Kruipers te kry.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.