Natuur dien as inspirasie vir kuns in duurste hotelkamers

(Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Dit is die wêreld se duurste hotelkamer, waar ʼn enkele nag se verblyf in ʼn suite van die Royal Mansion by Atlantis The Royal jou $100 000 (sowat R1,8 miljoen) uit die sak sal jaag, maar het jy geweet ʼn plaaslike kunstenaar se kuns pryk in die hotelkamer?

Caroline Jordaan het met ʼn verfkwas in die hand grootgeword. Sy het op alles geskilder: die erf, mure, haar bene, tot haar suster. Vanaf 2019 is sy voltyds kunstenaar en sy het haar kunstenaarsreis met Yolanda Wessels gedeel.

Caroline is in Oos-Londen in die Oos-Kaap gebore. Haar vroegste herinneringe is waar sy in die tuin gespeel en liewenheersbesies versamel het. “Selfs op 3-jarige ouderdom is ek betower deur die verskeidenheid kleure en patrone wat op hulle was. Ek is baie lief vir diere en om in die natuur te wees. Blomme, insekte, verkleurmannetjies en paddas verskaf my groot vreugde. Ek vier die diversiteit van kleur, patrone en tekstuur in die wêreld om ons.”

Haar ma is ook ʼn kunstenaar, so daar was altyd kunsmateriaal in die huis beskikbaar. “Ek het alles en op alles geskilder. Kuns was dus nog altyd ʼn integrale deel van my lewe.” Haar ma het kunsklasse vanuit hul motorhuis aangebied vir die kinders in die buurt. Haar lewe was gevul met helder kleure. “In graad 2 het my klasmaats my 20 of 50 sent betaal om in hulle skoolboeke te teken. Ek dink dit is waar my kunsonderneming eintlik begin het.”

Ongelukkig is nie elke seisoen helder en kleurvol nie. Daar was ʼn tyd wat dinge swaar gegaan het en die kleure het grys en donker geword. Haar ouers is geskei en hulle het alles agtergelaat en by haar grootouers gaan woon. “In die beginjare van my hoërskoolloopbaan het ek in die woud in Helderberg gaan sit met my sketsboek. Dit was ʼn wonderlike ontvlugting. Kuns is so terapeuties.” Sy het met olieverf begin toe sy 14 jaar oud was en sy het onmiddellik ʼn liefde daarvoor ontwikkel. Kuns was ʼn manier waarop sy haar emosies kon verwerk.

Ná skool het sy filmproduksie, ontwerp en grimering by City Varsity studeer, met kuns as hoofvak in die filmbedryf.

“In 2019 het ek by ʼn kruispad gekom waar God my herinner het dat Hy my ʼn talent vir kuns gegee het. Van daar af is dit my voltydse loopbaan en ek het nog nooit teruggekyk nie.”

Gedurende die 2020-inperking het Caroline ʼn koesterreeks van handgeverfde waterverf-kaartjies begin wat in winkels regoor Suid-Afrika beskikbaar is.

“Deesdae begin my daaglikse roetine met stiltetyd buite en ʼn koppie koffie. My lewe is somtyds besig en hierdie tyd van die dag is vreedsaam. Daarna oefen ek en die res van die dag is ek tuis in my ateljee of besig om kaartjiebestellings te prosesseer en te verpak.” Musiek vul haar ruimte en haar gunstelingmusiek wanneer sy skilder is Ludovico Einaudi, Young Oceans en United Pursuit. Sy vertel dat sy ongelooflike inspirasie put uit die skoonheid en grootsheid van ons land se natuur. “Ons het so ʼn pragtige land: Die sonlig op blare en veldblomme wat in die wind dans. In sulke oomblikke staan die tyd stil. Ek verwonder my aan die skoonheid en dit slaan my asem weg.”

Haar gunstelingplekke is Kirstenbosch, woude, die oseaan en berge. “Ek voel baie bederf en naby God wanneer ek in die natuur is. Ek is ook ʼn passievolle fotograaf en neem graag my eie foto’s wanneer ek iets mooi of interessant sien wat ek graag wil skilder.”

Haar gunstelingmediums is olieverf, die styl realisme en die natuur. Sy doen ook hiper-realistiese portrette. Tans skilder sy wat haar na aan die hart lê: die tema van water. “Dit is noodsaaklik vir lewe en iets wat almal waardeer en mee kan vereenselwig. Ek neem foto’s van die beweging van water by verskillende plekke wat ek besoek en gebruik dan realisme as skilderstyl. Ek werk tans aan ʼn olieverf-versameling wat fokus op water as tema.”

ʼn Paar van haar werke pronk tans in die Atlantis The Royal in Dubai.

Sy sê daar was nog altyd ʼn klavier in haar lewe. Verlede jaar het sy besluit dat sy sal aanhou leer totdat sy kan speel. Een van haar huismaats was toe toevallig ʼn klavieronderwyser en so het sy begin speel. Haar lewe is versadig met musiek en sang. Nog ʼn stokperdjie is staproetes en velddraf. Oefening en natuur is vir haar ʼn uitstekende versnit.

“Elke skildery is ʼn nuwe geleentheid om iets te leer en te groei as ʼn kunstenaar. Daar is nooit ʼn dag wat jy kan sê: ‘Ek ken nou alles nie’. Ek glo dat kuns praat en ek hoop dat dit lig, skoonheid, en genesing sal bring en ander sal uitnooi om te leef.”

Caroline se ateljee is in Oranjezicht, Kaapstad. Sy doen kommissies en versend internasionaal. Besoek gerus haar webwerf by www.carolineart.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.