Nuwe musiek, bundel vir Fokofpolisiekar

Fokofpolisiekar. (Foto: Michael Ellis)

Die Afrikaanse rockgroep Fokofpolisiekar se vyfde vollengte album, Dans deur die donker, is pas uitgereik.

Die groep wat al langer as twee dekades saam musiek maak, bestaan uit Francois van Coke, Wynand Myburgh, Hunter Kennedy, Snake Venter en Johnny de Ridder.

Dans deur die donker is die vyftal se eerste vollengte uitreiking sedert hul vorige album, Selfmedikasie, in 2017 die lig gesien het.

Net soos met dié album is Dans deur die donker vervaardig met behulp van ʼn skarefinansieringsveldtog. Die groep se jongste veldtog het altesaam R262 350 ingeoes.

“Ons wou graag weer die Fokofpolisiekar-gemeenskap betrek by die skepping van die album en daar is geen beter manier as ʼn skarefinansieringsveldtog nie,” sê Myburgh, baskitaarspeler en bestuurder van die groep.

“Dankie aan almal wat betrokke geraak het. Julle weet wie julle is.”

Fokofpolisiekar se debuutalbum, As jy met vuur speel sal jy brand, is 20 jaar gelede uitgereik. Volgens Myburgh is die nuwe album “die perfekte balans van wat al vyf lede van die groep wou hoor op ʼn nuwe Fokofpolisiekar-album”.

Die album bevat 12 snitte met titels soos “Die goeie ou dae”, “Breindrein”, “Oorgestimuleer” en “Die einde”.

“Die album klink soos my mid-90’s CD-wallet wat in 2023 internettoegang gekry het,” sê Kennedy, wat ook deel is van Die Heuwels Fantasties.

Fokofpolisiekar spog ook met ʼn splinternuwe bundel waarin al die lirieke van die groep se musiekarsenaal vervat is.

Fokofpolisiekar {Woorde 2003 – 2023} bevat die lirieke van altesaam 80 liedjies in ʼn bundel van 128 bladsye.

Die bundel sluit ook die lirieke in van die nuwe album getiteld Dans deur die donker en kan hier bestel word.

Dans deur die donker is beskikbaar op alle groot digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.