Rotte is ‘hoog’ ná hulle dagga in polisiekantoor vreet

Argieffoto (Foto: Justine Bonnery / Hans Lucas via AFP)

Soos wat die polisie in New Orleans in Louisiana in die VSA marijuana konfiskeer, kan hulle nie verhoed dat sommige in die departement die gekonfiskeerde middel verbruik nie.

Dis nie beamptes waarmee hulle ʼn probleem het nie, dis rotte wat al jare lank in die gebou tuisgaan.

“Die rotte vreet ons marijuana,” het Anne Kirkpatrick, hoof van die polisie in New Orleans, gesê. “Hulle is almal hoog.”

Kirkpatrick het vroeër vandeesweek tydens ʼn gesprek met die stadsraad dié inligting gedeel, aldus plaaslike media.

Rotte en kakkerlakke het by die polisiedepartement se hoofkantoor, wat oorspronklik in 1968 gebou is, ingetrek.

“Dis nie net by die hoofkantoor nie, dis in al die distrikte. Die vuilheid is verregaande,” het Kirkpatrick gesê, aldus die Times-Picayune/New Orleans Advocate-koerant.

“Die skoonmaakspan moet ʼn toekenning ontvang omdat hulle probeer skoonmaak wat nie skoongemaak kan word nie.”

Die stad is die tuiste van sowat 400 000 mense en is bekend vir sy laatnagpartytjies en geskiedenis as ʼn voormalige Spaanse en Franse kolonie. Dit het tot vandag nog ʼn groot invloed op die plaaslike kos- en kultuurgemeenskap.

Die polisie pleit al jare lank vir ʼn nuwe hoofkantoor.

“Dit is verskriklik,” het een beampte aan die koerant gesê. “Ek dink nie dit het ooit herstel ná Katrina nie, om eerlik te wees,” het hy gesê, met verwysing na die katastrofiese orkaan wat die stad in 2005 getref het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marietjie ·

Duidelik weet Anne Kirkpatrick nie wanneer THC vrygestel word nie. THC word eers gevorm wanneer die blaar aan 120 grade celcius en hoer blootgestel word. Diere vreet dit maar net omdat dit kos is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.