Televisie-aktrise verloor kankerstryd

Annie Wersching. (Foto: Rich Polk/AFP)

Die Amerikaanse aktrise Annie Wersching het Sondag in die ouderdom van 45 haar twee jaar lange stryd teen kanker verloor.

Dié rooikop aktrise was veral bekend vir haar rol in die televisiereeks 24, waarin sy die FBI-agent Renee Walker teenoor Kiefer Sutherland vertolk het.

Sutherland, wat Jack Bauer in dié bekende reeks vertolk het, het op Twitter geskryf dat die aktrise “een van die beste akteurs was met wie ek nog ooit die plesier gehad het om mee saam te werk, en my vriend”.

Hy het bygevoeg: “My hart breek vir haar jong gesin. Mag sy onthou word vir die pragtige mens wat sy was”.

Wersching was ook onlangs as Leslie Dean in die Marvel-reeks Runaways te sien en het gereeld haar stem aan rekenaarspeletjies se karakters verleen.

“Ons het vandag ’n sonstraal verloor. Lief vir jou,” het haar Runaways-medeaktrise Ever Carradine ook op Twitter geskryf.

Vampire Diaries-aanhangers sal haar ook onthou as die vampiere Damon en Stefan Salvatore se skurkagtige ma, Lily Salvatore.

Wersching word oorleef deur haar man, die akteur Stephen Full, en haar drie seuns.

Full het in ʼn verklaring aan The Hollywood Reporter gesê dat hoewel daar nou ʼn gat in die siel van sy gesin is, sy vrou vir hulle die gereedskap gelos het om dit te vul.

“Sy het die wonderlike in die eenvoudigste oomblik gevind. Sy het nie musiek nodig gehad om te dans nie. Sy het ons geleer om nie te wag vir avontuur om jou te vind nie, maar dit self te gaan soek.”

Bronne: The Hollywood Reporter, Rolling Stone Magazine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.