Luister: Pretorianers, hier kom die Shaun Jacobs Band


Shaun-Jacobs-in-die-ateljee

Die Suid-Afrikaanse rocksanger, Shaun Jacobs, en sy groep is tans besig om te werk aan ‘n nuwe album. Foto: Shaun Jacobs se Facebookblad.

Die kunstenaar Shaun Jacobs en die lede van sy groep is van daardie Suid-Afrikaanse musikante wat glad nie hoef terug te staan vir internasionale sterre as dit by rockmusiek kom nie.

Die groep se liedjie Love can het koning gekraai op verskeie radiostasies se trefferparades in 2013 en 2014, en die album met dieselfde naam het boonop ook verlede jaar vir dié groep ʼn Suid-Afrikaanse musiektoekenning (SAMA) in die volwasse-kontemporêre afdeling besorg.

Shaun reken Love can het soveel aanklank by plaaslike gehore gevind omdat hierdie liedjie oor hoop gaan, terwyl die ritme van hul melodieuse rockmusiek die gehoor meesleur. Die Shaun Jacobs Band het ook die geleentheid gehad om saam met die groep Nickelback te toer tydens hulle besoek aan Suid-Afrika in 2013.

Maroela Media het met Shaun gesels kort nadat hy en sy vrou in Januarie by die Chobe-rivier in Namibië se Caprivi-strook gaan uitspan het. Shaun sê hulle is nou reg vir 2015 en die groep het groot planne vir hierdie jaar: “Ons is tans besig om regtig hard te werk in die ateljee aan ʼn paar enkelsnitte vir die nuwe album wat later hierdie jaar vrygestel sal word.”

Luister gerus na die podsending waar Shaun meer vertel van hoe hy amper ʼn loopbaan as perderuiter bo musiek gekies het, en hoe hy die Shaun Jacobs Band se musiekstyl beskryf. Hy verduidelik ook wat aanhangers van hulle eerste vertoning op Woensdag 4 Februarie by die Blou Hond-restaurantteater in Lynnwood, Pretoria kan verwag.

  • Kaartjies vir die vertoning sluit ʼn ete in. Besprekings kan gedoen word by [email protected] of skakel 012 348 8820. Jy kan die Blou Hond se teaterprogram op hulle Facebookblad kry of volg hulle op Twitter by @BlouHondTuis.

Hier is die musiekvideo van die gewilde liedjie, Love can:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.